Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:29-40 Die Boodskap (DB)

29. Hy vra: “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n rots in stukke laat spat nie?”

30. Daarom sê die Here: “Dit kan julle weet, Ek is teen hierdie profete wat hulle boodskappe by ander steel en maak of Ek dit gesê het.

31. Ek is ’n opponent van hierdie gladdemondboodskappers wat stories vir die mense vertel en sê dit kom van My af.

32. Hierdie profete se drome is niks anders as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense op die verkeerde pad lei. Ek het hulle nie gestuur nie en Ek het niks vir hulle gesê om vir julle te sê nie. Wat hulle sê, help my mense net mooi niks,” sê die Here.

33. Die Here het vir my gesê: “Jeremia, as een van die mense of een van die profete of van die priesters vir jou vra: ‘Wat is die las van ’n boodskap waarmee die Here jou opgesaal het?’ dan moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Die Here sê Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’

34. As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n boodskap van die Here vir julle. Dit is ’n boodskap dat Hy julle gaan straf,’ sal Ek die spesifieke mens en sy hele gesin straf.

35. Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of ‘Wat het Hy gesê?’

36. Moenie langer ewe formeel sê: ‘’n Boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gewig aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van die Here, ons God, wat sterker as alles en almal is, te verdraai.

37. “Jeremia, jy moet vir die profete vra: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of ‘Wat sê die Here?’

38. Maar sê nou hulle sê: ‘Die Here het hierdie boodskap vir ons gegee!’ As hulle dit sou doen, moet jy sê: Die Here sê: ‘Julle bly sê die boodskap kom van die Here af, selfs al het Ek julle gewaarsku om dit nie te doen nie.

39. Omdat julle dit doen, sal Ek heeltemal van julle vergeet. Ek sal My glad nie meer aan julle steur nie. Dit geld ook vir hierdie stad wat Ek vir julle en ook julle voorouers gegee het.

40. Julle gaan vir altyd verneder word. Julle sal so in die skande kom dat niemand dit ooit sal vergeet nie.’”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23