Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 23:14-20 Die Boodskap (DB)

14. Maar nou sien Ek dat die profete van Jerusalem nog erger dinge doen. Hulle hoereer, lieg en bedrieg en boonop moedig hulle mense wat verkeerd doen aan om daarmee vol te hou. ’n Mens sou eerder verwag het dat hulle mense sou aanmoedig om op te hou om verkeerd te doen. Hulle is niks beter as die mense van Sodom en Gomorra nie!”

15. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê die volgende oor hierdie profete: “Ek sal vir hulle bitter goed gee om te eet en gif om te drink. Dit is die profete van Jerusalem se skuld dat al die mense van die land leef asof Ek nie bestaan nie.

16. Julle moenie na hierdie profete luister nie. Die boodskappe wat hulle vir julle bring, laat julle dinge hoop wat nie gaan gebeur nie. Die goed wat hulle kastig sien, is droombeelde wat hulle self uitgedink het. Die goed wat hulle praat, kom nie van My af nie.

17. Hulle hou aan om die mense wat minder as niks dink van wat Ek sê, gerus te stel. Hulle sê: ‘Die Here sê julle sal rus en vrede hê!’ En vir die mense wat hardkoppig is en net doen wat hulle wil, sê hulle: ‘Niks slegs sal met julle gebeur nie!’”

18. Wie van hierdie profete was al so deel van die binnekring van die Here dat hulle gesien het wat Hy doen of gehoor het wat Hy sê? Was daar enigeen van hulle wat regtig wou luister na wat Hy sê?

19. Kyk, die woede van die Here het losgebars soos ’n storm. Sy straf sal hulle tref soos ’n warrelwind wat hulle rondruk.

20. Die woede van die Here sal nie afkoel nie totdat Hy sy doel bereik het. Julle sal binnekort presies verstaan wat aan die gang is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 23