Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 18:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2. “Gaan na die ateljee van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.”

3. Ek het toe na die ateljee van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerskyf te werk.

4. Maar die pot wat hy besig was om te maak was nie reg volgens sy smaak nie. Hy het toe die klei weer inmekaargedruk totdat dit ’n bol was. Daarna het hy weer begin om ’n nuwe pot te vorm wat was soos hy dit wou hê.

5. Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee wat met die klei te doen gehad het. Hy het gevra:

6. “Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei gemaak het nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker is om daarmee te maak net wat hy wil, so is julle in my hande.

7. As Ek in ’n stadium sê dat Ek ’n sekere nasie of ’n regering van ’n land omver sal gooi, sal afbreek en vernietig, kan Ek dit doen.

8. Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is, sal Ek hulle nie inmekaardruk soos Ek eers wou nie.

9. Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal opbou en groot en sterk sal maak, dan kan Ek dit doen.

10. As die nasie egter verkeerde goed begin doen en nie aan My gehoorsaam is nie, sal Ek sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek eers beplan het dit moet nie.

11. Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en Jerusalem, die Here sê: Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou in die verkeerde koers waarop julle nou is nie. Hou op om verkeerd te doen en doen wat reg is. Dit geld vir een en almal van julle.”

12. Maar hulle het geantwoord: “Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil. Ons sal ons eie kop volg en doen wat ons wil, al is dit kastig sleg.”

13. Toe sê die Here: “Het iemand al ooit gehoor van die afskuwelike ding wat Israel gedoen het? Vra maar rond onder die ander volke, so iets het nog nie eens by hulle gebeur nie.

14. Smelt die sneeu ooit heeltemal in die hoogste dele van die Libanonberg? Sal die koue bergstrome van die Hermonberg ooit opdroog?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 18