Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 17:22-27 Die Boodskap (DB)

22. Moenie op hierdie rusdag goed uit julle huise dra nie. Julle moet ook nie enige werk doen nie. Maak dit ’n dag wat julle ter wille van My uitsonder soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.’

23. Maar hulle voorouers wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou niks doen wat Ek vir hulle voorgeskryf het nie.”

24. Maar die Here sê: “Julle weet wat Ek wil hê. Julle moet My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die rusdag nie. Julle moet ook nie op dié dag werk nie, maar dit spesiaal eenkant hou ter wille van My.

25. As julle dit doen, sal daar ’n goeie toekoms vir julle wees. Daar sal altyd ’n koning in Jerusalem regeer wat deel is van die familielyn van Dawid. Die konings en prinse sal by die hekke van Jerusalem ingaan. Hulle sal op koetse en perde ry en tussen die mense van Juda wees. Daar sal ook altyd mense wees wat in Jerusalem sal bly, ook in die toekoms.

26. Baie mense sal uit die stede van Juda na Jerusalem toe kom. Ook van die mense in die omgewing van Jerusalem. Dit sluit nou mense in van die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide. Hulle sal met allerhande offers en wierook wat hulle aan die Here wil toewy, na die huis van die Here toe kom. Op so ’n manier wil hulle vir Hom dankie sê.

27. Maar as julle weier om die sewende dag as ’n rusdag ter wille van My te hou en aanhou om op dié dag julle handelsware rond te dra, sal Ek die hekke van Jerusalem aan die brand steek. Die vuur sal van die hekke af na die paleise versprei. Daar sal niemand wees wat dit sal regkry om die vuur te blus nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 17