Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 1:9-15 Die Boodskap (DB)

9. Julle het ’n groot oes verwag, maar dit het nie veel opgelewer nie. Die bietjie wat julle ingesamel het, het Ek laat verdwyn. Hoekom, dink julle, gebeur dit? vra Ek die Here wat mag het wat met niks en niemand vergelyk kan word nie. Dit is omdat my tempel nog verwoes lê terwyl julle almal besig is om aan julle eie huise te werk.

10. Dit is julle eie skuld dat dit nie reën nie en niks wil groei nie.

11. Dit is Ek wat droogte oor die land gebring het. Dit het ’n effek op die berge, die graanlande, die wingerde, die olyfboorde, die oeste en wat ook al uit die grond groei. Die droogte raak ook mens en dier en alles waarvoor julle gewerk het.”

12. Haggai het gedoen wat die Here gesê het. Hy het met die mense van Juda gepraat en gesê wat die Here wou hê hulle moes hoor. Serubbabel, wat nou die hoof van die land was, die hoëpriester Jesua en al die mense wat in die land was, het positief gereageer op wat die Here hulle God te sê gehad het. Die mense van Juda het weer besluit om die Here met hulle hele hart te dien.

13. Die Here het toe weer vir Haggai gebruik om vir die volk die belofte te gee dat Hy by hulle sal bly.

14. Die Here het vir Serubbabel, Jesua en die mense wat uit Babel teruggekom het, soveel moed en energie gegee dat hulle aan die werk gespring het om die huis van Here reg te maak.

15. Die werk het op 21 September 520 v.C. begin in die tweede jaar wat Darius koning was.

Lees volledige hoofstuk Haggai 1