Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 6:13-22 Die Boodskap (DB)

13. God het Noag eenkant toe geroep en vir hom gesê: “Ek het besluit om alles en almal op hierdie aarde te verwoes. Kyk net hoe besoedel hulle die aarde met hulle geweld en wetteloosheid. Ek is op die punt om die hele aarde te vernietig.

14. “Bou nou vir jou ’n boot van goferhout. Maak aan die binnekant sommer ’n klomp kamers. Sorg dat jy alles waterdig maak. Smeer dit binne en buite goed met pik.

15. So moet jy dit bou: die lengte van die ark moet 135 meter wees, sy breedte 22,5 meter en sy hoogte 13,5 meter.

16. Maak ook vir die ark ’n dak met ’n spitsnok van 45 sentimeter. Sit ’n deur aan die kant van die ark in. En verdeel die ark in ’n onderste, ’n middelste en ’n boonste verdieping.

17. “Ek gaan ’n groot vloed oor die aarde loslaat. Die water gaan alles vernietig. Alle mense en diere, ja, alles wat lewe, sal doodgaan. Niemand sal hierdie ramp oorleef nie.

18. Maar met jou sal Ek ’n ooreenkoms maak. As die water kom, moet jy en jou familie in die ark ingaan, maar julle moet ’n klomp diere saamneem.

19. Van alles wat leef, moet jy twee-twee saam met jou die ark invat. Sorg dat dit ’n mannetjie en ’n wyfie is.

20. Van alle soorte voëls, van alle soorte vee en van alles wat op die aarde kruip, moet jy twee vat. Hulle moet saam met jou in die ark bly.

21. “Jy moet ook vir genoeg kos sorg. Jy moet genoeg saamvat en in die ark wegpak sodat julle en die diere altyd kos sal hê om te eet.”

22. Noag het dit toe gedoen, net soos God vir hom gesê het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 6