Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 6:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Toe die mense op die aarde meer en meer geword het, het hulle ook mooi dogters gekry.

2. Sommige van die wesens in die hemel het hierdie dogters se skoonheid raakgesien en met hulle kom trou. Hulle het vir hulle as vroue gevat wie hulle wou.

3. Toe sê die Here: “My Gees sal nie vir altyd in die mens bly nie. Hy is tog maar net ’n sterflike wese. Hy sal nie langer as 120 jaar leef nie.”

4. In hierdie tyd was daar ook reuse op aarde. Hulle was die kinders van die hemelwesens en die vroue van die aarde. Hierdie reuse was die heldefigure van die oertyd; bekende mans waaroor die mense stories vertel het.

5. Die Here het gesien dat die mens sleg was. Alles waaraan hy gedink het of beplan het, was deurtrek van boosheid.

6. Toe het die Here spyt gekry dat Hy die mens gemaak het. Sy hart was seer.

7. Op ’n dag het Hy toe gesê: “Ek gaan alles op aarde verwoes; die mense wat Ek gemaak het asook die diere: al die wilde diere, alles wat kruip en alles wat in die hemel rondvlieg. Ek is bitter jammer dat Ek ooit mense en diere gemaak het.”

8. Een mens het egter alles vrygespring: dit was Noag. Die Here was lief vir hom.

9. Van Noag kan ’n mens net mooi dinge sê. Hy was ’n goeie man. Hy het die regte dinge gedoen en naby aan die Here geleef.

10. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.

11. In die oë van God was die aarde vol boosheid. Oral was daar korrupsie en wetteloosheid.

12. God het geweet wat op die aarde aangaan. Hy het gesien hoe mens en dier dag vir dag net slegter word.

13. God het Noag eenkant toe geroep en vir hom gesê: “Ek het besluit om alles en almal op hierdie aarde te verwoes. Kyk net hoe besoedel hulle die aarde met hulle geweld en wetteloosheid. Ek is op die punt om die hele aarde te vernietig.

Lees volledige hoofstuk Genesis 6