Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 44:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Hulle was net ’n klein entjie weg toe Josef die hoof van sy huis beveel: “Sit hulle agterna en as jy by hulle kom, moet jy sê: ‘Dit is darem nou vir jou stank vir dank! Waarom het julle die beker gevat?

5. Dit is die beker waaruit meneer Josef elke dag drink en wat hy gebruik om die toekoms te voorspel. Julle het ’n verskriklike ding gedoen.’”

6. Die huisheer is onmiddellik daar weg en het hulle sommer gou ingehaal.

7. Toe hy al die woorde van Josef vir hulle gesê het, was hulle verslae. “Hoe kan Meneer dit sê? Ons sal dit mos nooit doen nie.

8. Meneer weet tog dat ons al die geld teruggebring het wat die vorige keer in ons sakke was. Ons het dit die hele pad van Kanaän af saamgedra. Waarom sal ons dan nou silwer of goud uit meneer Josef se huis wil steel?

9. As enigeen van ons die beker het, moet hy beslis doodgemaak word. Die res van ons sal dan vir meneer Josef gaan werk.”

10. Die huisheer het gesê: “Dit is nie nodig nie. Net die een wat die beker gesteel het, sal as slaaf moet agterbly. Die res van julle kan maar huis toe gaan.”

11. Elkeen het toe vinnig sy sak van die donkies afgehaal en dit oopgemaak.

12. Josef se huisheer het toe sak vir sak ondersoek, van die oudste broer se sak tot dié van die jongste. En die beker is in Benjamin se sak gekry.

13. Die broers het uit wanhoop en frustrasie hulle klere begin skeur. Toe het hulle die donkies gepak en is terug stad toe.

14. Toe Juda en sy broers weer by Josef se huis aankom, was hy nog steeds daar. Hulle het voor hom op die grond geval.

15. Josef het vir hulle gesê: “Julle het ’n verskriklike ding gedoen. Ek het die beker nodig om in die toekoms in te kyk en toe loop steel julle dit.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 44