Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 43:19-34 Die Boodskap (DB)

19. Toe het die broers na die huis se ingang gestap en daar met die hoof van Josef se huis begin praat.

20. “Meneer, miskien kan u ons help,” het hulle gesê. “Ons was ’n vorige keer ook hier om kos te koop.

21. Op pad terug het ons by die nagkamp ons graansakke oopgemaak en tot ons groot verbasing gesien dat elkeen se geld bo-op lê. Die presiese bedrag wat elkeen bestee het. Ons het vandag gekom om hierdie geld vir u terug te gee.

22. Natuurlik het ons ook ander geld saamgebring waarmee ons kos wil koop. Meneer, ons weet regtig nie wie die geld in ons sakke gesit het nie.”

23. “Alles is reg,” het die hoof gesê, “moenie bang wees nie. Al die geld wat julle moes betaal het, het ek gekry. Elke sent daarvan. Dalk was dit julle God en die God van julle pa wat die geld in julle sakke gesit het.” En hy het Simeon gaan haal en hom vir sy broers teruggegee.

24. Die hoof het die broers in Josef se groot huis ingenooi en hulle ’n plek gegee waar hulle kon was en ontspan. Hy het ook vir hulle donkies kos gegee.

25. Ondertussen het die broers verneem dat hulle die middag saam met Josef moet eet. Terwyl hulle vir hom gewag het, het hulle solank die geskenke reggesit.

26. Toe Josef uiteindelik opdaag, het hulle laag voor hom gebuig en die geskenke vir hom gegee.

27. Josef het gehoor hoe dit gaan en toe gevra: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle my die vorige keer vertel het? Leef hy nog?”

28. Hulle het gesê: “Dit gaan goed met u kneg, ons pa. Hy leef nog en hy is baie gesond.” Die broers het gekniel en voor Josef gebuig.

29. Josef het na Benjamin, sy ma se jongste kind, gekyk en gevra: “Is dit nou julle jongste broer? Die een van wie julle my vertel het?” Hy het vir Benjamin gesê: “Mag God naby jou wees, seun.”

30. Toe het Josef vinnig uitgestap, want hy wou huil. Hy het hartseer begin word toe hy sy broer weer sien. Hy het in sy slaapkamer gaan sit en huil.

31. Daarna het hy sy gesig gewas en na sy broers toe teruggestap. Hy was weer in volle beheer van homself en het beveel dat die kos bedien moet word.

32. Elkeen se kos is afsonderlik uitgedeel. Eers is Josef bedien, toe die broers en toe die Egiptenaars wat saam met hulle geëet het. Egiptenaars het nooit saam met Hebreërs geëet nie, want vir hulle was dit ’n skande.

33. Almal het teenoor Josef gesit, maar hulle is volgens ouderdom ingedeel, van die oudste tot die jongste. Die broers was baie verbaas hieroor. Hoe sou Josef tog hulle ouderdomme geken het?

34. Almal is met kos van die koning se tafel bedien. Benjamin se porsie was egter elke keer vyf keer groter as dié van die ander. Hulle het almal lekker saam met die koning geëet en gedrink.

Lees volledige hoofstuk Genesis 43