Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:15-28 Die Boodskap (DB)

15. Ek sal julle egter ’n kans gee om julle onskuld te bewys. Gaan haal julle jongste broer en bring hom hierheen. Eers as hy hier is, sal ek julle glo. Gebeur dit nie, sweer ek by die farao dat ek julle in die tronk sal stop.

16. Een van julle moet julle broer gaan haal. En die ander bly net hier in huisarres. So sal ek uitvind of julle die waarheid praat en of julle net spioene is.”

17. Daarna het Josef hulle almal summier drie dae lank in die tronk gestop.

18. Op die derde dag het Josef sy broers laat haal en vir hulle gesê: “Doen wat ek vir julle sê en dan sal julle lewe. Dit beloof ek julle, want ek glo in God.

19. As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee.

20. Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.”Almal het saamgestem.

21. Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.”

22. Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.”

23. Wat die broers nie geweet het nie, was dat Josef alles verstaan het, want daar was ’n tolk tussen hom en hulle.

24. Josef het eenkant toe gestap en begin huil. Toe hy weer kon praat, het hy Simeon gekies om agter te bly. Hulle het hom voor die ander gevat en in die tronk gesit.

25. Josef het sy mense aangesê om sy broers se houers tot bo toe vol te maak met graan, elkeen se geld in sy sak terug te sit en ook vir elkeen padkos saam te gee. Alles is presies so gedoen.

26. Toe het die broers die sakke op hulle donkies gelaai en hulle is daar weg.

27. Teen die aand se kant toe hulle kamp opslaan, wou een broer voer vir sy esel gee. Toe hy sy sak oopmaak, sien hy sy geld bo in die sak.

28. “Kom kyk hier,” het hy uitgeroep, “iemand het my geld in my sak teruggesit!” Hulle moed het in hulle skoene gesak en hulle het vir mekaar gevra: “Wat is God besig om met ons te doen?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 42