Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Jakob het gehoor daar is nog kos in Egipte en hy het vir sy seuns gesê: “Vir wat sit julle net daar en niks doen?

2. ’n Paar mense het my nou al van kos in Egipte kom vertel. Julle moet sommer dadelik soontoe gaan en kyk wat julle kan kry. Miskien is daar nog kos vir ons en dan hoef ons nie van die honger dood te gaan nie.”

3. Tien van Josef se broers is toe daar weg om koring in Egipte te gaan koop.

4. Jakob wou nie hê dat Benjamin, Josef se jongste broer, saamgaan nie. Hy was bang daar gebeur iets met die kind soos destyds met Josef.

5. Jakob se seuns is toe daar weg. Soos baie ander mense is hulle Egipte toe om kos te gaan koop. Hulle kon nie anders nie, want die hongersnood in Kanaän het by die dag erger geword.

6. Josef het die land regeer en almal se porsies vir hulle afgemeet. Toe sy broers by hom kom, het hulle laag voor hom gebuig.

7. Hy het hulle onmiddellik herken. Hy het egter gemaak of hy hulle nie ken nie. Hy het kortaf vir hulle gevra: “Waar kom julle vandaan?” “Ons kom van Kanaän af, Meneer, en ons het gekom om kos te koop,” het hulle geantwoord. Hulle het hom egter nie herken nie.

8. Terwyl Josef voor sy broers gestaan het, het hy aan die drome teruggedink,

9. die drome wat hy lank gelede oor hom en sy broers gehad het. En hy het weer met hulle gepraat: “Julle is net spioene wat kom kyk het waar julle die land kan binneval.”

10. “Nee, Meneer, dit is nie so nie. Ons het regtig net kom kos koop.

11. Ons is almal die seuns van een man en ons bedoelings is goed, Meneer. Ons is regtig nie spioene nie.”

12. Josef het weer gepraat: “Ek glo julle nie. Julle het net gekom om te kyk waar die land oop en swak is.”

13. Hulle het weer probeer: “Meneer, kyk na ons. Ons is tog nie spioene nie. Ons is broers. Ons was eers twaalf en almal van dieselfde pa. Hy bly nou nog daar anderkant in Kanaän. Die jongste broer het agtergebly, want hy moes ons pa oppas. En die ander seun, nouja Meneer, ons weet nie meer waar hy is nie.”

14. Josef het aangehou sê: “Ek glo julle nie. Julle is niks anders as spioene nie.

Lees volledige hoofstuk Genesis 42