Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Jakob het intussen besluit om in Kanaän aan te bly, in dieselfde land waar sy pa al die jare gewoon en rondgetrek het.

2. Toe Josef sewentien was, het hy saam met sy broers, sy pa se seuns by Bilha en Silpa, skape opgepas. Josef het elke dag by sy pa oor sy broers loop en skinder.

3. Jakob was baie liewer vir Josef as vir al sy ander seuns. Josef was die kind wat op sy oudag gebore is en Jakob het hom liefgehad. Hy het toe vir Josef ’n kleed met lang moue en baie kleure laat maak.

4. Al die ander broers het gesien hulle pa was liewer vir Josef as vir hulle. En hulle het Josef begin haat, so erg dat hulle kortaf en onbeskof met hom was.

5. Op ’n dag het Josef ’n droom gehad en sy broers daarvan vertel. Dit het hulle so kwaad gemaak dat hulle hom nog meer gehaat het.

6. Hy het vir hulle gesê: “Luister, ek wil julle van my droom vertel.

7. Ons was almal in die veld besig om gerwe koring vas te bind. Skielik staan my gerf regop. Julle gerwe het ook regop gestaan en in ’n kring rondom my gerf kom staan. En daar buig julle gerwe toe voor my gerf.”

8. Die broers was woedend en het vir hom gevra: “Mannetjie, wil jy nou oor ons regeer? Wil jy ons baas word?” Die broers het Josef nog meer gehaat oor al sy droompraatjies.

9. Josef het nog ’n droom gehad en het dit sowaar weer vir sy broers loop en vertel. “Hoor hier,” het hy gesê, “ek wil julle van ’n ander droom vertel. Hierdie keer was dit die son, die maan en elf sterre wat gekom en voor my gebuig het.”

10. Opgewonde het Josef ook vir sy pa van die droom gaan vertel. Sy pa het hom egter kortgevat: “Watse dromery is dit met jou? Wat beteken al jou drome? Dink jy nou regtig ek en jou ma en al jou broers moet voor jou kom buig?”

11. Al die broers was jaloers op Josef. Sy pa het sy woorde onthou en dikwels daaraan gedink.

12. Op ’n dag het sy pa hom geroep. Dit was in die tyd toe sy broers die kuddes in die omgewing van Sigem laat wei het.

13. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers is naby Sigem met die skape. Ek stuur jou na hulle toe. Jy moet gaan kyk hoe dit met hulle gaan.”“Goed, ek sal gaan,” het Josef geantwoord.

14. Jakob het verder gesê: “Jy moet gaan kyk hoe dit met jou broers gaan en wat die toestand van die vee is. Kyk mooi en dan kom vertel jy my.” Josef is toe daar weg. Van Hebron af is hy reguit in die rigting van Sigem.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37