Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 35:15-26 Die Boodskap (DB)

15. Jakob het die plek Bet-El genoem omdat God daar met hom gepraat het.

16. Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het.

17. Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.”

18. Maar Ragel was besig om te sterf van die komplikasies met die geboorte. Met haar laaste kragte het sy die seuntjie Ben-Oni genoem. Dit beteken “seun van pyn en smart”. Jakob het later sy naam na Benjamin, “seun van geluk en voorspoed”, verander.

19. Ragel is daar dood. Sy is langs die grootpad na Efrata begrawe. Hulle noem die plek vandag nog Betlehem.

20. Jakob het ’n grafsteen op haar graf gesit, wat nou nog daar staan.

21. Israel is toe verder en het uiteindelik by Migdal-Eder kamp opgeslaan.

22. In hierdie tyd het daar iets verskrikliks gebeur. Ruben, Israel se oudste seun, het by sy pa se byvrou, Bilha, gaan slaap. En Israel het dit uitgevind.

23. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.

24. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.

25. Die seuns van Bilha, die vrou wat vir Ragel gewerk het, was Dan en Naftali.

26. Die seuns van Silpa, die vrou wat vir Lea gewerk het, was Gad en Aser. Hierdie is dan die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.

Lees volledige hoofstuk Genesis 35