Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 33:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Jakob het opgekyk en Esau met 400 man in die verte sien aankom. Jakob was bang en het vinnig die kinders en hulle ma’s bymekaargemaak.

2. Hy het hulle in vier groepe opgestel. Vooraan was Silpa en Bilha met hulle kinders. Toe Lea en haar seuns. Heel agter was Ragel en Josef.

3. Jakob het reg voor gaan staan. Stadig maar seker het hulle begin loop. Hy het telkens sewe keer grond toe gebuig totdat hy naby Esau was.

4. Esau het skielik begin hardloop, reguit op Jakob af. Toe hy by hom kom, het hy Jakob omhels. Hy het hom vasgehou, sy kop in sy nek gesit en hom begin soen. Albei broers het gehuil.

5. Esau het die vroue en die kinders gesien en gevra: “En al dié mense? Wie is hulle?”Jakob het na die kinders gewys en gesê: “God het hulle vir my gegee.”

6. Silpa en Bilha het toe hulle kinders gevat en laag voor Esau gebuig.

7. Daarna het Lea en haar kinders vorentoe gestap en gebuig.

8. Die laaste twee was Josef en Ragel. Hulle het ook voor Esau gebuig.

9. Esau het weer gepraat: “Jakob, wat is jou bedoeling met al die troppe vee wat vroeër hier verbygekom het?”“Dit is u s’n, Meneer. Alles is u s’n. Ek het gehoop dit sal u sag maak,” het Jakob gesê. Esau het geantwoord: “Dankie, my broer, maar ek het werklik genoeg diere van my eie. Hou dit liewer vir jouself.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 33