Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 32:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Laban was vroeg die oggend al op. Hy het sy goedjies gepak en toe die kinders gaan groet, vir Ragel, Lea en al die kleinkinders. Laban het hulle almal gesoen en hulle geseën, en toe is hy terug huis toe.

2. Jakob-hulle het ’n ander koers ingeslaan. Langs die pad het hy engele teëgekom.

3. Jakob het gesê: “Dit is seker waar God se leërmag woon.” Hy het die plek toe Mahanaim genoem, wat “Twee kampe” beteken.

4. Jakob was bang vir Esau. Hy het daarom mense met ’n boodskap na sy broer Esau by die Seïrgebied in Edom gestuur.

5. Hulle moes die volgende sê: “So sê u slaaf Jakob: Meneer, ek is niks en ek verdien ook niks nie. Jare lank het ek vir Laban gewerk. Ek was daar by hom tot ’n kort rukkie gelede.

6. “Oor die jare het ek ’n klompie besittings bymekaargeskraap. Beeste, donkies en skape. En ook nog werkers: mans sowel as vroue. Ek vertel Meneer al hierdie dinge sodat Meneer my sal vergewe en goed vir my sal wees.”

7. Jakob se mense het teruggekom en gesê: “Ons het u broer gekry en hy is op pad na u toe. By hom is daar 400 manne.”

8. Jakob het geskrik en was baie bang. Angsbevange het hy gou al sy mense en diere in twee groepe verdeel.

9. Jakob het by homself gedink: “As Esau die een kamp aanval en vernietig, kan die ander kamp se mense en diere darem nog wegkom.”

10. Hy het eenkant toe gestap en daar gebid: “Here, U is die God van my oupa Abraham en my pa, Isak. By Laban het U vir my gesê: ‘Gaan terug na jou geboorteland. Ek sal daar vir jou goed wees.’

11. Here, ek is te klein vir u groot liefde. U was baie goed vir my en ek het dit nie verdien nie. Destyds is ek oor die Jordaan met net my kierie. Vandag het ek so baie besittings dat die twee kampe sommer vol staan.

12. En nou, Here, vra ek u hulp. Esau is op pad en ek is baie bang. Red my uit sy hande. Ek is bang hy maak my dood en sommer ook al die vroue en kinders.

13. “Here, U het tog self gesê dat U goed vir my sal wees en dat my nageslag baie sal wees. So baie soos die sand van die see. ’n Ontelbare menigte.”

14. Nadat Jakob die nag daar geslaap het, het hy besluit om vir Esau ’n present te gee. Hy wou sommer van sy vee neem en vir Esau gee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 32