Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Ragel het begin besef dat sy nie vir Jakob kinders kan gee nie. Sy het toe baie jaloers op haar suster geword. Woedend het sy vir Jakob gesê: “Gee my ’n kind of ek gaan dood.”

2. Jakob het hom vererg en skerp gereageer: “Dink jy ek is God? Dink jy ek kan jou vrugbaar maak? Dit is God wat jou kinderloos gemaak het, nie ek nie.”

3. Radeloos het Ragel vir Jakob gesê: “Hier is Bilha, my slavin. Vat haar. Slaap by haar. Laat sy namens my ’n kind in die lewe bring. Deur haar moet my nageslag gebou word.”

4. Ragel het Bilha na Jakob toe geneem. Bilha was vir hom soos ’n vrou en hy het by haar geslaap.

5. Bilha het verwag en vir Jakob ’n kind in die wêreld gebring.

6. Ragel was baie bly en het gesê: “God het reg aan my gedoen. Hy het my gebede gehoor en my hierdie seun gegee.” Sy het hom Dan genoem.

7. Bilha, Ragel se slavin, het nog ’n seun vir Jakob gebaar.

8. Ragel het toe gesê: “Ek en my suster is in ’n groot stryd met mekaar gewikkel, maar gelukkig het ek gewen.” Sy het Bilha se kind toe Naftali genoem.

9. Toe Lea sien sy kan nie meer kinders kry nie, het sy haar slavin, Silpa, gaan vat en haar vir Jakob gegee.

10. Silpa het vir Jakob ’n seun in die wêreld gebring.

11. Lea het net gesê: “Watter goeie geluk!” en die kind Gad genoem.

12. Silpa het nog ’n kind gehad en

13. Lea het gesê: “Mooi so, die geluk is aan my kant. Al die ander vroue sal my sukses raaksien en my gelukkig ag.” Daarom het sy die kind Aser genoem.

14. Op ’n dag, tydens die oestyd, het Ruben in die veld gaan stap. Hy het liefdesappels gesien en dit opgetel. Liefdesappels was ’n vrug wat mense lief gemaak het vir mekaar. Ruben het die liefdesappels vir sy ma gebring. Toe Ragel dit sien, het sy dadelik gesê: “Lea, gee my asseblief van Ruben se liefdesappels.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 30