Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:22-35 Die Boodskap (DB)

22. Isak het weggegaan en op ’n ander plek ’n put gaan grawe. Toe niemand daaroor gekla het nie, het hy dit “Ruimte” genoem en gesê: “Die Here het nou vir ons ruimte gemaak. Ons sal baie mense word in dié land.”

23. Na ’n ruk het Isak weer sy goed opgepak en Berseba toe getrek.

24. Sommer nog dieselfde nag het die Here na hom toe gekom en gesê: “Isak, Ek is die God van jou pa, Abraham. Jy moet vir niks bang wees nie, want Ek is by jou. Omdat jou pa My getrou gedien het, sal Ek jou seën en vir jou ’n groot nageslag gee.”

25. Uit dankbaarheid het Isak vir die Here ’n altaar gebou en Hom aanbid. Hy het ook sy tent daar opgeslaan en sy mense het weer ’n put gegrawe.

26. Abimelek het uit Gerar getrek en Isak kom besoek. Saam met hom was Agussat, sy vertroueling, en Pikol, die hoof van die leër.

27. Isak vra hulle toe: “Wat wil julle hê? Julle haat my mos. Julle het my dan weggejaag!”

28. Abimelek en sy manne het toe gesê: “Isak, dit is vir ons duidelik dat die Here by jou is. Daarom het ons besluit dat ons met jou ’n ooreenkoms wil maak.

29. Ons wil ’n verbond met jou sluit sodat jy ons nooit sleg sal behandel nie. Toe jy destyds tussen ons gewoon het, was ons nie lelik met jou nie. Ons was goed vir jou en het jou in vrede laat weggaan. Isak, die Here het jou werklik voorspoedig gemaak.”

30. Isak het vir hulle ’n feesmaaltyd voorgesit. Hulle het geëet en gedrink.

31. Vroeg die volgende oggend het hulle opgestaan en ’n ooreenkoms met mekaar gesluit. Isak het hulle gegroet en sy gaste het vertrek. Hulle was bly en gelukkig.

32. Op dieselfde dag het Isak se mense hom van ’n put kom vertel. Hulle was nog besig om te grawe toe hulle skielik sterk water gekry het.

33. Isak het die put Seba genoem en tot vandag toe noem hulle daardie stad Berseba.

34. Toe Esau 40 jaar oud was, het hy met twee Hetitiese vroue getrou: Judit, die dogter van Beëri, en Basemat, die dogter van Elon.

35. Hierdie twee vroue het Isak en Rebekka diep ongelukkig gemaak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 26