Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 26:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Daar was weer hongersnood in die land, net soos in Abraham se tyd. Isak het na die land van die Filistyne getrek en vir eers in Gerar gaan bly. Abimelek was toe die koning.

2. Daar het die Here vir Isak gesê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly net hier in die land waarvan Ek jou vertel het.

3. Bly in die land en trek met jou vee rond. Ek sal saam met jou trek en jou baie voorspoedig maak. Elke plek waar jy kom, sal Ek eendag vir jou en jou kinders gee. Lank gelede het Ek dit al aan jou pa, Abraham, beloof.

4. Jou nageslag sal groot wees. Hulle sal so ontelbaar soos die sterre aan die hemel wees. En al die lande rondom jou sal Ek eendag vir hulle gee. Met jou nageslag sal dit so goed gaan dat al die volke rondom hulle deur hulle geseën sal wees.

5. Al hierdie dinge sal gebeur omdat Abraham geluister het toe Ek met hom gepraat het. Hy was lewenslank aan My getrou: hy het reg geleef, hy het my voorskrifte uitgeleef en gedoen wat Ek hom geleer het.”

6. Toe Isak al ’n ruk lank in Gerar gewoon het, het die mense oor hom begin praat.

7. Hulle het gewonder oor die vrou wat altyd by hom was. “Wie is sy tog?” het hulle gevra. Toe Isak hiervan hoor, het hy bang begin word. Rebekka was baie mooi en Isak wou nie sê dit is sy vrou nie. Hy was bang hulle sal hom doodmaak en Rebekka wegneem. Hy het toe vir die mans gesê Rebekka is sy suster.

8. Almal het hom geglo en vir ’n lang ruk het dit goed gegaan. Op ’n dag het Abimelek, die Filistynse koning, by sy venster uitgekyk en iets vreemds gesien: Isak was besig om sy vrou, Rebekka, te soen en te liefkoos.

9. Abimelek het Isak laat roep en woedend gesê: “So, sy is nie jou suster nie, maar jou vrou! Hoe kon jy ons so mislei? Waarom het jy gesê sy is jou suster?”Isak het verleë geantwoord: “Ek was bang dat hulle my sou doodmaak as hulle hoor sy is my vrou.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 26