Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 25:2-22 Die Boodskap (DB)

2. Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring.

3. Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was almal die nageslag van Dedan.

4. Die seuns van Midian was Efa, Efer, Ganok, Abida en Elda. Al hierdie mense het van Ketura afgestam.

5. Abraham het al sy besittings aan Isak bemaak.

6. Aan al sy ander seuns het hy geskenke gegee terwyl hy nog geleef het. Hy het hulle ook na verskillende lande in die ooste gestuur sodat hulle nie by Isak sou bly nie.

7. Abraham het 175 jaar oud geword.

8. Hy was oud en gedaan toe hy die dag dood is. Sy lewensjare was vol mooi ervarings. Toe hy dood is, is hy by sy mense begrawe.

9. Sy twee seuns, Isak en Ismael, het hom gevat en in die Magpelagrot neergelê.

10. Dit is die grot op die grond van Efron, seun van Sohar, die Hetiet, digby Mamre wat Abraham destyds by die Hetiete gekoop het. Daar het Abraham se seuns hom langs Sara begrawe.

11. Na Abraham se dood het God vir Isak, sy seun, geseën en dit het baie goed met hom gegaan. Isak het duskant Beer-Lagai-Roï gaan woon.

12. Hier is die nageslag van Ismael, die seun van Abraham wat Hagar, Sara se Egiptiese slavin, vir hom in die wêreld gebring het.

13. Die name van die seuns is in die volgorde van hulle geboorte: Nebajot is die eersgeborene, Kedar, Adbeël, Mibsam,

14. Misma, Duma, Massa,

15. Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16. Hierdie name van Ismael se seuns is ook aan hulle woongebiede en blyplekke gegee. Hulle was die twaalf leiers van twaalf stamme.

17. Ismael het 137 jaar oud geword. Toe hy dood is, het hulle hom by sy mense begrawe.

18. Sy nageslag het oor ’n wye gebied gebly, van Gawila af tot by Sur oos van Egipte en in die rigting van Assur. Ismael en sy kinders het teen almal in hierdie gebiede oorlog gemaak.

19. Hier volg die verhaal van Isak, die seun van Abraham. Abraham was Isak se pa.

20. Isak was 40 toe hy met Rebekka, die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van Laban die Arameër getroud is.

21. Rebekka kon egter nie kinders hê nie. Isak het toe baie vir sy vrou gebid en die Here het sy gebede verhoor.

22. Sy het ’n kind verwag, maar Rebekka het swaargekry. Dit was of die twee kinders binne-in haar heeltyd teen mekaar stamp. So erg was dit dat Rebekka naderhand gesê het: “As dit so moet aanhou, hoekom lewe ek?” Sy het gebid en die Here gevra wat sy moet doen.

Lees volledige hoofstuk Genesis 25