Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 22:1-14 Die Boodskap (DB)

1. ’n Ruk hierna wou God vir Abraham toets. Hy het hom geroep en Abraham het gesê: “Hier is ek.”

2. God het toe vir hom gesê: “Vat jou seun Isak, die een vir wie jy baie lief is, en gaan na die land Moria toe. Daar moet jy hom op een van die hoë plekke op een van die berge as ’n brandoffer gaan offer. Ek sal jou daar wys waar jy hom moet offer.”

3. Abraham het niks gesê nie, maar gedoen wat die Here vir hom gesê het. Vroeg die volgende oggend het hy ’n donkie ingespan en die hout vir die brandoffer gekap. Abraham het ook twee slawe saamgeneem, saam met sy seun Isak. Toe is hy weg na die plek wat die Here vir hom sou wys.

4. Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien.

5. Toe het hy vir sy werkers gesê: “Bly julle hier. Pas die donkie en al ons goed mooi op. Ek en die seun gaan net daar anderkant offer en as ons klaar is, kom ons terug.”

6. Abraham het die hout van die brandoffer gevat en op Isak se rug vasgemaak. Abraham het ’n groot mes gedra asook die vuurklip waarmee hulle die hout moes aansteek. Saam-saam het hulle na die plek toe aangestap.

7. Na ’n ruk het Isak die stilte verbreek. “Pa?” het hy gevra.“Ja, seun,” het Abraham geantwoord.“Pa, hier is nou wel hout en vuurklip om dit aan te steek, maar waar is die skaap vir die brandoffer dan?”

8. Abraham het geantwoord: “Moenie bekommerd wees nie, seun. God sal self nog vir ons ’n skaap gee om te offer.” Die twee het verder gestap.

9. Uiteindelik het hulle by die plek gekom waarvan God gepraat het. Abraham het dadelik afgepak, ’n altaar gebou, die hout gevat en dit op die altaar gesit.

10. Toe gryp hy vir Isak, druk hom op die altaar bo-op die hout vas en met sy ander hand vat hy die mes, die groot mes wat hy die hele pad saamgedra het en waarmee hy Isak wou doodmaak.

11. Op daardie oomblik het die Engel van die Here uit die hemel geroep: “Abraham, dit is Ek. Hou dadelik op.

12. Los die mes en moenie die seun seermaak nie. Ek weet nou dat jy My liefhet, want jy was bereid om jou lieflingskind, jou enigste seun, vir My te offer.”

13. Net toe Abraham opkyk, hoor hy ’n geritsel tussen die takke. Dit was ’n ram waarvan die horings in die digte takke vasgehaak het. Hy het nader gestap, die ram geslag en dit as ’n brandoffer op die altaar geoffer. So is die ram toe in Isak se plek geslag.

14. Abraham het die plek “Die Here voorsien” genoem. Vandag nog gebruik mense die uitdrukking: “Op die berg van die Here sal Hy altyd voorsien.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 22