Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:20-30 Die Boodskap (DB)

20. Daar is egter ’n dorpie net agter die eerste bult. Dit is maar ’n klein ou plekkie, maar daar sal ons veilig wees. Niemand sal ons daar kry nie en geen ellende sal ons daar tref nie. So, asseblief, Meneer, laat ons tog daarheen gaan.”

21. Hy het toe geantwoord: “Goed dan, julle kan daarheen vlug. Ek sal aan julle dink en die dorpie nie verwoes nie.

22. Maar maak tog net gou, want ek kan niks doen voordat julle daar is nie.” Daarom noem hulle die dorpie Soar (wat “’n onbeduidende ding” beteken).

23. Die son was net op toe Lot-hulle in Soar aankom.

24. Toe het die hel losgebars. Die Here het swaelvuur op Sodom en Gomorra laat neerreën.

25. Hierdie vuur het alles en almal voor die voet verdelg. Die Here het al die stede in die omgewing heeltemal vernietig, al die inwoners doodgemaak en al die plante tot op die grond verwoes. Niks het oorgebly nie.

26. Lot se vrou het egter omgekyk en onmiddellik in ’n soutpilaar verander.

27. Vroeg die volgende oggend is Abraham terug na die plek waar hy die vorige dag nog met die Here gepraat het.

28. Hy het in Sodom en Gomorra se rigting gekyk en net verwoesting aanskou. Al die dorpe in die omgewing was vernietig. Donker rookwolke het oor die gebied gehang saam met die skerp reuk van rookwalms.

29. Terwyl die Here die stede in die vallei verwoes het, het Hy aan Abraham gedink. Hy het onthou wat Abraham Hom gevra het; daarom is Lot en sy mense nie in die ramp dood nie.

30. Lot en sy dogters is later van Soar af weg. Hulle was bang om langer daar te bly. Hulle is toe die berge in en het in ’n grot gaan woon.

Lees volledige hoofstuk Genesis 19