Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 19:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Teen die aand se kant het die twee engele in Sodom aangekom. Op daardie oomblik het Lot juis by die stadspoorte gesit en gesels. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan, hulle vriendelik gegroet en voor hulle gebuig.

2. “Menere,” het hy gesê, “welkom hier in Sodom. U kan vannag sommer by my oorslaap. Daar kan u was en ontspan en môre vroeg weer verder gaan.”Hulle wou nie en het gesê: “Baie dankie, maar ons slaap sommer op die stadsplein.”

3. Lot het egter so aangehou dat hulle uiteindelik saam met hom is. Hy het vir hulle lekker kos gemaak en ook broodrolletjies voorgesit. Hulle het saam geëet.

4. Net voor slaaptyd was daar skielik ’n geraas buite. Al die stad se mans het voor Lot se huis saamgedrom. Almal was daar; jonges en oues.

5. Hulle het Lot geroep en gevra: “Waar is die mans wat vroeër vanaand hier by jou was? Bring hulle uit. Ons wil hulle sien en met hulle seks hê.”

6. Lot het uitgegaan en die deur agter hom toegesluit.

7. Hy het toe mooi met hulle gepraat: “Asseblief, my broers, moet tog nie iets onverantwoordeliks aanvang nie.

8. Kyk, ek het twee dogters. Hulle is hier binne-in die huis. Hulle het nog nooit by ’n man geslaap nie. Ek is bereid om hulle vir julle te bring en julle kan met die dogters doen net wat julle wil. Maar moet in hemelsnaam niks aan die twee mans doen nie. Hulle is my gaste vir die nag.”

9. Die skare mans was egter onbeheerbaar. Hulle het Lot eenkant toe gestoot en gesê: “Wie is jy nou eintlik? Jy het hier as ’n vreemdeling aangekom en nou wil jy oor ons baasspeel. Ons sal jou nog vernietig. Ons sal nog erger dinge aan jou doen as aan die mans in jou huis!” Die skare het toe vorentoe begin beur en Lot teen die deur vasgedruk. Hulle wou die deur oopbreek.

10. Die twee mans binne-in die huis het Lot egter vinnig teruggepluk en die deur gesluit.

11. Skielik het hulle met ’n helder en skerp lig die mans verwar, sodat hulle wat by die huis se ingang saamgedrom het, nie die deur kon kry nie.

12. Toe het die twee mans vir Lot gesê: “Ons sal moet vinnig spring. As daar nog ’n seun of ’n dogter saam met jou in die huis is, moet jy hulle dadelik roep. En as daar nog een van jou mense in die stad is, moet jy hulle nou uit hierdie plek kry.

13. Ons is op die punt om die stad te verwoes. Hierdie stad se sondes is so groot dat die Here ons gestuur het om dit vernietig.”

14. Lot is toe haastig weg na die skoonseuns wat met sy oudste dogters getroud was, en het uitasem vir hulle gesê: “Staan op en gaan dadelik weg, want die Here is op die punt om die stad te vernietig.” Lot se skoonseuns het gelag, want hulle het gedink hy maak ’n grap.

15. Teen dagbreek het die engele Lot aangejaag en gesê: “Nou moet julle regtig baie vinnig vertrek. As jy en jou vrou en die twee dogters nie nou vertrek nie, sal julle saam met die stad vergaan.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 19