Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 9:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.

12. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.”

13. Hierop was Ester se antwoord: “As dit die koning se goedkeuring wegdra, laat die Jode in Susan môre weer toe om te doen wat hulle vandag gedoen het. En wat die lyke van die tien seuns van Haman betref, laat hulle in die openbaar ten toon gestel word.”

14. Die koning het ingestem en so ’n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is ook in die openbaar ten toon gestel.

15. Op 8 Maart het die Jode van Susan weer bymekaargekom en nog 300 mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het weereens nie hierdie mense se besittings gevat nie.

16. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Hulle het goed daarin geslaag, want hulle het 75 000 van hulle doodgemaak, maar nie hulle besittings gevat nie.

17. Dit het op 7 Maart gebeur, maar die volgende dag het hulle opgehou om mense dood te maak. Hulle het vrolik feesgevier.

18. Die Jode in die stad Susan het egter op 7 en 8 Maart nog teen hulle vyande geveg. Hulle het eers op die negende Maart opgehou en dit toe as ’n feesdag vol vreugde gevier.

19. Daarom vier die Jode wat op die platteland bly, hierdie feesdag nog steeds op die agtste Maart. Dit is ’n vrolike fees waarop hulle vir mekaar lekkernye en kos stuur.

20. Mordegai het al hierdie dinge laat neerskryf en vir al die Jode oral in die provinsies van koning Ahasveros se ryk briewe gestuur.

21. Daarin het hy hulle aangemoedig om jaarliks hierdie twee dae as feesdae te vier.

22. Dit sou hulle daaraan herinner dat hulle op hierdie dae hulle vyande oorwin het. En dat hulle hartseer in vreugde en hulle rou in blydskap verander is. Daarom moes dit ’n vrolike fees wees waarop hulle vir mekaar lekkernye en vir die armes geskenke gee.

Lees volledige hoofstuk Ester 9