Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Later, toe Ahasveros se woede bedaar het, het hy weer aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het, asook oor wat hy oor haar besluit het.

2. ’n Paar van die koning se persoonlike amptenare maak toe ’n voorstel: “Hoekom laat soek die koning nie vir hom ’n klomp mooi jongmeisies in sy koninkryk nie?

3. Stel in elke provinsie amptenare aan en laat hulle al die mooi jongmeisies na die vrouekwartiere in Susan bring. Laat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer is van die vroue in die paleis, vir hulle sorg. Hier moet hulle skoonheidsbehandeling ondergaan,

4. en dan moet die meisie van wie u die meeste hou, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het van die voorstel gehou en hulle raad gevolg.

5. Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis.

6. Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is.

7. Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak.

8. Die koning se opdrag is uitgevoer. Hulle het ’n groot klomp meisies na Susan toe gebring en hulle onder die paleisbeampte Hegai se sorg geplaas. Ester was ook onder hierdie groep meisies wat na die paleis toe gebring is.

9. Hegai het van Ester gehou en het haar spesiaal behandel. Hy het dadelik met haar skoonheidsbehandeling begin en haar ook ’n spesiale dieet laat volg. Hy het haar na die beste deel van die vrouekwartiere toe geskuif en sewe van die paleis se beste kamerpersoneel uitgesoek om haar te versorg.

10. Op Mordegai se advies het Ester vir niemand iets van haar agtergrond of herkoms vertel nie.

11. Mordegai het elke dag by die binnehof van die vrouekwartiere ’n draai gemaak om te hoor hoe dit met Ester gaan en wat van haar gaan word.

12. Die skoonheidsbehandeling wat die meisies moes ondergaan, het twaalf maande geduur. Hulle is vir ses maande met mirreolie behandel en daarna vir nog ses maande met spesiale kruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna het elke meisie ’n beurt gekry om ’n nag by koning Ahasveros deur te bring.

13. Wanneer dit ’n meisie se beurt was om na die koning toe te gaan, kon sy enige klere en juwele kies, net wat sy wou, om haar skoonheid nog verder te beklemtoon om die koning te beïndruk.

14. Sy is in die aand na die koning toe gevat. Die volgende môre is sy dan na ’n ander deel van die vrouekwartiere toe teruggeneem waar die koning se byvroue onder die toesig van Saägas gebly het. Hier sou sy nou vir die res van haar lewe bly en nooit weer na die koning se slaapkamer toe gaan nie, tensy hy so baie van haar gehou het dat hy spesifiek vir haar op haar naam laat vra het.

Lees volledige hoofstuk Ester 2