Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 1:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Hy het toe, soos sy gebruik in moeilike situasies was, raad gevra by sy adviseurs wat al die Persiese wette en gebruike geken het.

14. Die persone by wie hy die meeste van die tyd raad gevra het, was Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan, die sewe hoofamptenare van Persië en Medië. Hulle het direkte toegang tot die koning gehad en ook die belangrikste posisies in sy koninkryk beklee.

15. Hy sê toe vir hulle: “Ek, koning Ahasveros, het my amptenare na koningin Vasti toe gestuur met ’n opdrag, en sy het geweier om dit uit voer! Wat moet ons volgens die wet met haar doen?”

16. Toe sê Memukan vir die koning en sy hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net die koning beledig nie, maar ook elke amptenaar en elke mens in die koninkryk.

17. Sodra die vroue hiervan hoor, sal hulle almal begin neersien op hulle mans. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het koningin Vasti beveel om na hom toe te kom en sy het geweier.’

18. Voor hierdie dag verby is, sal die vooraanstaande vroue van Persië en Medië van die optrede van die koningin hoor en presies net so met hulle mans begin praat. Dit sal die mans baie kwaad maak.

19. U moet dalk daaraan dink om ’n koninklike bevel te gee dat Vasti nie meer by u welkom is nie. Maak dit ’n wet van Meders en Perse sodat dit nie herroep kan word nie. Soek dan vir u ’n ander koningin wat haar beter as Vasti sal gedra.

20. Wanneer hierdie bevel van die koning dan oor sy uitgestrekte koninkryk bekend word, sal al die vroue weer hulle mans, of hulle nou belangrik of onbelangrik is, met respek behandel.”

21. Die koning en sy hoë amptenare het van Memukan se voorstel gehou en besluit om dit te doen.

22. Die koning stuur toe ’n amptelike brief na elke provinsie wat onder sy beheer was. Dit was in hulle eie taal geskryf sodat hulle dit kon verstaan. In hierdie brief het hy opdrag gegee dat elke man die leiding moet neem in sy huis en dat hy die finale sê het.

Lees volledige hoofstuk Ester 1