Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 44:21-31 Die Boodskap (DB)

21. Iemand wat in my huis werk, mag nie wyn drink as hy in die verskillende kamers van my huis ingaan nie.

22. Hulle mag slegs trou met vroue uit Israel wat nog nooit voorheen getroud was nie. Hulle mag ook met vroue trou wat mans gehad het wat vroeër in my huis gewerk het, maar wat intussen dood is. Hulle mag nie met ander vroue trou wat voorheen getroud was of wat geskei is nie.

23. Hulle werk is om vir my volk te leer wat reg en verkeerd is, wat gedoen mag word en wat nie gedoen mag word nie.”

24. “Mense wat in my huis werk, moet ook besluit wie reg is as twee mense stry oor ’n saak. Hulle sal besluit wie reg is soos Ek hulle beveel het om te doen. Mense wat vir My werk, moet doen wat Ek hulle beveel het. Hulle moet al die feesdae hou soos Ek vir hulle gesê het. Hulle moet ook kyk dat die mense op die sewende dag maak soos Ek beveel het. Op dié dag moet mense nie werk nie. Die sewende dag is my dag.

25. Iemand wat in my huis werk, mag nie by ’n lyk kom nie. Hy mag slegs na ’n lyk gaan kyk as dit sy pa of ma of kind, of sy broer of ongetroude suster is.

26. Maar dan mag hy nie dadelik weer terugkom en in my huis werk nie. Hy moet homself eers rein maak en dan sewe dae wag voor hy weer in my huis mag kom staan.

27. Die eerste dag dat hy weer in my huis inkom, moet hy ’n offer namens homself bring sodat hy rein kan wees,” sê die Here, die God van Esegiël.

28. “Die mense wat vir My werk, besit nie eiendom nie. Wat aan My behoort, gee Ek vir hulle. Hulle het nie grond op hulle naam soos die ander mense van Israel nie.

29. Hulle leef van die offers wat die volk bring vir hulle eie sondes. Wat enigiemand eenkant sit en vir My gee as ’n geskenk, behoort aan die mense wat in my huis werk.

30. Die eerste van die ryp vrugte wat mense na my huis toe bring en die geskenke wat mense vir My gee, gaan na die mense wat in my huis werk. Die eerste graankorrels van die oes en die eerste van die meel wat mense gemaal het, moet hulle na my huis toe bring. Dit gaan na die mense toe wat in my huis werk sodat hulle en hulle gesinne genoeg kan hê om van te leef. Die mense moet die beste van wat hulle bak vir My bring. Ek gee dit vir die mense wat in my diens staan.

31. Daarom mag die mense wat in my huis werk, nooit vleis eet van ’n voël of ’n dier wat in die veld gevrek het of wat deur ’n ander dier doodgemaak is nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 44