Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 44:17-27 Die Boodskap (DB)

17. “Wanneer hulle by ’n ingang van my huis inkom, moet hulle onthou dat hulle die linneklere aantrek wat Ek voorskryf. Hulle mag nie in die huis van die Here ingaan as hulle klere aanhet wat van wol gemaak is nie.

18. Selfs hulle hoede moet van linne gemaak wees. En hulle broeke ook. Die rede is dat hulle klere hulle nie moet laat sweet nie. Wol is te warm om te dra.

19. As hulle uitgaan na die volk wat buitekant wag, moet hulle eers hulle linneklere uittrek. Die klere wat hulle dra as hulle voor My kom, mag nie uit die kamers gaan wat by my huis aangebou is nie. Selfs hulle klere dra die merk van my teenwoordigheid. As mense wat slegte dade doen daarmee in aanraking kom, kan hulle doodgemaak word.

20. “Mense wat in my diens staan, mag nie hulle koppe kaal skeer nie. Maar hulle mag ook nie hulle hare lank dra nie. Hulle moet altyd hulle hare netjies laat sny.

21. Iemand wat in my huis werk, mag nie wyn drink as hy in die verskillende kamers van my huis ingaan nie.

22. Hulle mag slegs trou met vroue uit Israel wat nog nooit voorheen getroud was nie. Hulle mag ook met vroue trou wat mans gehad het wat vroeër in my huis gewerk het, maar wat intussen dood is. Hulle mag nie met ander vroue trou wat voorheen getroud was of wat geskei is nie.

23. Hulle werk is om vir my volk te leer wat reg en verkeerd is, wat gedoen mag word en wat nie gedoen mag word nie.”

24. “Mense wat in my huis werk, moet ook besluit wie reg is as twee mense stry oor ’n saak. Hulle sal besluit wie reg is soos Ek hulle beveel het om te doen. Mense wat vir My werk, moet doen wat Ek hulle beveel het. Hulle moet al die feesdae hou soos Ek vir hulle gesê het. Hulle moet ook kyk dat die mense op die sewende dag maak soos Ek beveel het. Op dié dag moet mense nie werk nie. Die sewende dag is my dag.

25. Iemand wat in my huis werk, mag nie by ’n lyk kom nie. Hy mag slegs na ’n lyk gaan kyk as dit sy pa of ma of kind, of sy broer of ongetroude suster is.

26. Maar dan mag hy nie dadelik weer terugkom en in my huis werk nie. Hy moet homself eers rein maak en dan sewe dae wag voor hy weer in my huis mag kom staan.

27. Die eerste dag dat hy weer in my huis inkom, moet hy ’n offer namens homself bring sodat hy rein kan wees,” sê die Here, die God van Esegiël.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 44