Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 41:12-18 Die Boodskap (DB)

12. Aan die westekant van die huis van die Here was daar nog ’n gebou. Hierdie gebou was 35 meter breed en 45 meter lank, en sy muur was twee en ’n half meter dik.

13. Die man het eers die huis van die Here klaar gemeet. Dit was 50 meter lank. Daarna het hy die area agter die huis van die Here gemeet, en ook die westelike gebou met sy mure. Die lengte was ook 50 meter.

14. Voor die huis van die Here, aan die oostekant daarvan, was die oop area 50 meter wyd.

15. Daarna het die man die gebou aan die westekant agter die huis van die Here gemeet. Hy het ook die gange weerskante van die gebou gemeet. Die afstand was 50 meter.

16. Ek het ook gesien dat al die vertrekke in die huis van die Here, asook die ingang tot die huis, die drumpels van die deure, die vensters en die gange rondom, alles met hout oorgetrek was. Van die grond af tot by die vensters was alles met hout oorgetrek. Die vensters was ook van hout.

17. Nog iets het my opgeval. Oral was daar tekeninge van boodskappers van die Here en palmbome. Daar was bokant die ingang en teen die huis van die Here aan die binnekant en buitekant, en teen al die mure rondom aan die binnekant en buitekant sulke tekeninge.

18. Tussen elke tekening van ’n boodskapper van die Here was daar palmbome geteken. Elke boodskapper van die Here is met twee gesigte geteken.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 41