Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 4:3-12 Die Boodskap (DB)

3. Vat dan ’n plaat wat van yster gemaak is en plaas die plaat tussen jou en die baksteen. Daar moet ’n muur van yster tussen jou en die stad wees. Kyk in die stad se rigting. Wys ook hoe die vyand die stad Jerusalem aanval. Laat jou optrede ’n waarskuwing aan Jerusalem wees oor wat op hulle wag: die vyand gaan hulle stad oorwin.

4. “As jy hiermee klaar is, gaan lê op jou linkersy. Maak of jy al die sondes van jou volk Israel op jou neem. Jy gaan vir die hele tyd wat jy so lê Israel se sondes dra.

5. Hulle het 390 jaar teen My gesondig. Gaan lê op jou linkersy vir 390 dae, ’n dag vir elke jaar.

6. As jy daarmee klaar is, moet jy op jou regtersy gaan lê. Dan moet jy maak of jy die sondes van Juda op jou dra. Jy moet 40 dae so lê, want Juda het 40 jaar lank gesondig. Jy moet ’n dag vir elke jaar van sonde lê.

7. En hou aan kyk na die vyand se aanval op Jerusalem. Praat ernstig met die stad oor sy sondes. Bring my boodskap na almal in die stad toe.

8. Ek sal jou met toue vasbind sodat jy nie eens van jou een sy op die ander kan draai nie, totdat jy klaar die stad oorwin het.

9. “Gaan kry nou eers genoeg kos. Sit dit in ’n skottel. En maak vir jou kos daarvan, so lank as wat jy op jou sy lê: 390 dae lank.

10. Jy mag nie meer op ’n dag eet as wat Ek vir jou voorskryf nie. Jy moet dit deur die loop van die dag eet.

11. Jy moet ook die water wat jy gedurende die dag drink, afmeet en nie méér drink as wat Ek vir jou voorskryf nie.

12. Die kos wat jy byderhand hou, moet gebruik word om vir jou brood te maak. Die brood moet gaargemaak word op vuur wat met menslike uitwerpsel gemaak is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 4