Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 4:2-14 Die Boodskap (DB)

2. Maak nou of jy ’n vyand is wat teen die stad optrek en die stad probeer oorwin. Bou ’n kamp vir jou soldate buite die stad. Rig jou wapens op die stad. Val die stad aan.

3. Vat dan ’n plaat wat van yster gemaak is en plaas die plaat tussen jou en die baksteen. Daar moet ’n muur van yster tussen jou en die stad wees. Kyk in die stad se rigting. Wys ook hoe die vyand die stad Jerusalem aanval. Laat jou optrede ’n waarskuwing aan Jerusalem wees oor wat op hulle wag: die vyand gaan hulle stad oorwin.

4. “As jy hiermee klaar is, gaan lê op jou linkersy. Maak of jy al die sondes van jou volk Israel op jou neem. Jy gaan vir die hele tyd wat jy so lê Israel se sondes dra.

5. Hulle het 390 jaar teen My gesondig. Gaan lê op jou linkersy vir 390 dae, ’n dag vir elke jaar.

6. As jy daarmee klaar is, moet jy op jou regtersy gaan lê. Dan moet jy maak of jy die sondes van Juda op jou dra. Jy moet 40 dae so lê, want Juda het 40 jaar lank gesondig. Jy moet ’n dag vir elke jaar van sonde lê.

7. En hou aan kyk na die vyand se aanval op Jerusalem. Praat ernstig met die stad oor sy sondes. Bring my boodskap na almal in die stad toe.

8. Ek sal jou met toue vasbind sodat jy nie eens van jou een sy op die ander kan draai nie, totdat jy klaar die stad oorwin het.

9. “Gaan kry nou eers genoeg kos. Sit dit in ’n skottel. En maak vir jou kos daarvan, so lank as wat jy op jou sy lê: 390 dae lank.

10. Jy mag nie meer op ’n dag eet as wat Ek vir jou voorskryf nie. Jy moet dit deur die loop van die dag eet.

11. Jy moet ook die water wat jy gedurende die dag drink, afmeet en nie méér drink as wat Ek vir jou voorskryf nie.

12. Die kos wat jy byderhand hou, moet gebruik word om vir jou brood te maak. Die brood moet gaargemaak word op vuur wat met menslike uitwerpsel gemaak is.

13. Jou optrede is ’n simbool van wat met die volk Israel gaan gebeur as hulle stad deur die vyand oorwin word. So gaan hulle ook onrein kos eet wanneer hulle as gevangenes weggevoer gaan word om tussen ander nasies te gaan woon.”

14. Toe sê ek vir die Here: “Ag, Here my God, moet ek myself regtig gaan staan en vuil maak deur menslike uitwerpsel te gebruik? Ek het myself nog nooit in my hele lewe met sulke dinge vuil gemaak nie. Vandat ek ’n kind was tot nou het ek nog nooit ’n dier geëet wat van siekte gevrek het of wat dood in die veld gekry is nie. En ek het ook nog nooit enige dier geëet wat ons wet ons verbied om te eet nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 4