Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 37:14-26 Die Boodskap (DB)

14. Dan sal my Gees die wind wees wat Ek oor julle laat waai. Julle sal weer lewe en terugkom huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle weet dat Ek die Here is, as julle sien dat Ek alles presies gedoen het soos Ek belowe het.” Dit is Ek, die Here, wat gepraat het.

15. Die Here het toe verder met my gepraat.

16. “Mens, vat ’n stuk hout. Kerf dan hierdie woorde daarop: Hierdie stok is Juda en al die stamme wat saam met hom werk. Vat dan ’n ander stok en kerf daarop: Hierdie stok is die stamme van die noordelike ryk van Israel.

17. Hou nou albei hierdie stokke saam in jou hand. Gebruik hulle as een stok.

18. Wanneer jou mense vir jou vra wat jy doen en wat dit beteken,

19. moet jy vir hulle verduidelik: So sê die Here, Esegiël se God: Ek gaan die noordelike stamme van Israel vat en hulle by Juda sit. Ek maak hulle een stok in my hand.

20. “Hou dan die stokke waarop jy gekerf het, so dat jou mense dit kan sien.

21. Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê só: Ek gaan die mense van Israel haal waar hulle tussen ander nasies bly. Ek gaan hulle huis toe bring, want Ek gaan hulle self haal waar hulle nou in vreemde lande bly.

22. Dan sal Ek Israel en Juda weer een nasie maak. Hulle was voorheen twee volke, maar nou sal hulle net een koning hê wat oor hulle regeer. Hulle sal nie meer twee nasies wees wat in twee lande bly nie.

23. Dan sal my volk ophou om voor afskuwelike afgode te buig. Hulle sal nie meer slegte dinge doen nie, want Ek sal hulle red van hulleself. Ek sal hulle weer nuut maak. Dan sal hulle werklik my volk wees. En Ek sal hulle God wees.

24. “Dan sal iemand oor hulle heers wat so goed sal wees soos koning Dawid. Hierdie koning sal My dien en aanbid. Hy sal vir hulle soos ’n goeie skaapwagter wees. En my volk sal doen wat Ek hulle beveel. Hulle sal gehoorsaam wees aan wat Ek vir hulle sê.

25. Hulle sal in die land bly wat Ek vir hulle oupagrootjies gegee het, vir Abraham en Isak en Jakob. Hulle sal daar bly, so ook hulle kinders en hulle agterkleinkinders. ’n Goeie koning soos Dawid sal oor hulle regeer, en dit sal goed gaan.

26. Ek sal ’n ooreenkoms met hulle sluit wat vir altyd geldig sal wees. My deel van die ooreenkoms sal wees dat Ek vir hulle die land van hulle oupagrootjies sal teruggee. En Ek sal sorg dat dit met hulle goed gaan sodat hulle hulle kinders en kleinkinders sien. Ek sal my huis weer daar laat bou tussen hulle, en dit sal vir altyd daar wees in hulle land.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 37