Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:15-27 Die Boodskap (DB)

15. So het ek teruggekom by my eie mense, die gevangenes wat daar in die dorp Tel-Abib gebly het, naby die Kebarrivier. Ek was so oorweldig deur wat ek gesien en gehoor het dat ek vir sewe dae niks anders kon doen nie as om net tussen hulle te sit.

16. Na ’n week het die Here weer met my gepraat:

17. “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My.

18. Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het.

19. As jy hom wel gewaarsku het, maar hy steur hom nie daaraan nie en hou aan met sy verkeerde optrede en weier om om te draai en agter My aan te loop, sal hy doodgaan omdat ek Hom tot die dood veroordeel. Maar dan het jy jou lewe gered omdat jy hom gewaarsku het en gedoen het wat Ek jou beveel het.

20. En as goeie mense wat tot nou toe reg geleef en goed gedoen het, ophou om agter My aan te loop en verkeerde dinge begin doen, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie gewaarsku het en hulle gewys het op die gevolge van hulle dade nie, sal hulle as gevolg van hulle dade sterf. Die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal nie tel nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir hulle dood omdat jy hulle nie betyds gewaarsku het nie. Ek sal hulle bloed van jou hande eis.

21. Maar as jy hulle betyds gewaarsku het en hulle draai om van hulle slegte dade en loop agter My aan, sal hulle leef. En jy sal so jou eie lewe red.”

22. Toe het die Here se krag oor my gekom en Hy het vir my gesê: “Gaan na die vallei toe. Ek wil daar by die rivier met jou praat.”

23. Ek het toe opgestaan en na die vallei toe gegaan. Ek het in die vallei weer die sitplek van die Here gesien, net soos ek dit by die Kebarrivier gesien het, met die Here wat bo-op die troon sit. Ek het met my gesig in die stof neergeval. Dit het gevoel of die lewe uit my gevloei het.

24. Toe het die Gees oor my gekom en my op my voete voor die Here laat staan. Die Here het daar vir my gesê: “Gaan nou. Gaan sluit jou in jou huis toe.

25. Mens, dit sal wees asof jy met toue vasgebind is terwyl jy in jou huis toegesluit is. Jy sal nie tussen ander mense kan kom nie.

26. Ek sal jou mond toemaak sodat dit sal wees asof jy nie kan praat nie. Jy sal nie vir jou volk kan bid nie. Jy sal nie die mense wat op die verkeerde pad loop, kan waarsku nie omdat Ek jou sal keer, al wil jy graag omdat jy sien hoe opstandig die volk teen My is. Jy sal niks teen hulle kan sê nie, vir so lank as wat Ek bepaal.

27. Maar dan sal die dag kom dat Ek jou die opdrag gee. Dan sal jy weer kan praat. En dan moet jy presies vir jou mense sê wat Ek, die Here jou God, jou beveel het om vir hulle te sê. Party van die volk sal dan na jou luister, terwyl ander hulle nie sal steur aan wat jy sê nie. Want hulle is ’n klomp opstandige mense.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3