Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 23:8-25 Die Boodskap (DB)

8. Want toe sy uit Egipte weggetrek het, het sy nie haar slegte dade agtergelaat nie. Sy het nog nooit opgehou om sleg te doen nie. Sy is nog net so sleg as toe sy ’n jongmeisie in Egipte was. Die Egiptenaars het al by haar geslaap toe sy nog maar ’n jongmeisie was. Hulle het aan haar borste gevat en haar verlei om die vieslikste dinge te doen. Hulle kon nie genoeg van haar kry nie.

9. Daarom het Ek haar oorgegee aan die mans van Assirië. Sy wou hulle mos graag hê.

10. Toe het hulle haar kaal uitgetrek en haar doodgemaak. En hulle het haar kinders as gevangenes saamgevat. Al die mense in die wêreld het van haar gehoor. Sy was die vrou wat gekry het wat sy gesoek het. Ek het haar vir haar slegte dade gestraf.”

11. “Oholiba het alles gesien wat met haar sussie gebeur het, maar sy het alles gedoen wat haar sussie gedoen het. Sy was selfs nog slegter. Sy het haar oorgegee aan die slegste dinge. Sy het saam met elke man in die bed gespring.

12. Sy kon ook nie haar oë weghou van haar Assiriese bure nie. Sy het die aantreklike jongmanne op hulle sterk perde begeer, die kapteins en generaals in hulle mooi uniforms.

13. Ek het gesien wat sy doen, hoe sy haar liggaam vernietig deur haar sondes, nes haar ouer sussie.

14. “Maar dit was nie vir haar genoeg nie. Sy het nog verder gegaan. Sy het verlief geraak op prentjies wat op ’n muur geverf was. Dit was prentjies van Babiloniese soldate wat rooi uniforms aangehad het.

15. Hulle het blink gordels en hoede gedra. Hulle was aangetrek soos Babiloniese soldate wat met perde oorlog maak.

16. Toe sy hierdie prentjies sien, het sy net een begeerte gehad. Sy wou haar liggaam met hulle deel. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur en hierdie soldate genooi om na haar toe te kom.

17. En hulle het gekom en by haar geslaap. Hulle het haar vuil gemaak. Maar hierna het sy nie meer van hulle gehou nie. Sy het hulle weggejaag.

18. “Daarom het Ek moeg geraak vir albei sussies se slegte dade. Hulle het albei net vieslike dinge met ander mans aangevang.

19. Maar dit het Jerusalem nie gepla nie. Sy het selfs nog slegter dade gedoen. Sy het onthou hoe sy as ’n jongmeisie in Egipte al rondgeslaap het. En sy het nie opgehou met al die slegte dinge wat sy gedoen het nie.

20. Sy het nie teruggedeins van die slegste dinge nie.

21. Oholiba, jy het bly terugverlang na jou slegte gedrag toe jy in Egipte ’n jongmeisie was en die mans jou geliefkoos en met jou borste gespeel het.”

22. So sê die Here, die God van Esegiël: “Oholiba, Ek gaan die mans by wie jy geslaap het, teen jou laat optrek. Hulle is die nasies wat jy weggejaag het omdat jy nie meer van hulle gehou het nie.

23. Hulle sal van alle kante af op jou neersak: die Babiloniërs en die Galdeërs sal saam kom, en die Assiriërs ook. Hulle kapteins en generaals op hulle perde sal op jou toesak.

24. Hulle sal uit die noorde kom met waens en perde en ’n leërmag met baie wapens, gereed om jou aan te val. Hulle sal jou met al hulle soldate omsingel. En Ek sal jou aan hulle oorgee sodat hulle met jou kan doen wat hulle wil.

25. Ek was jaloers op jou, en Ek was kwaad oor wat jy gedoen het. Daarom gee Ek jou oor sodat jou vyande my straf oor jou bring. Hulle sal jou sleg behandel. Hulle sal jou neus en ore afsny soos ’n mens met opstandige vyande van jou doen. En hulle sal almal wat die oorlog oorleef, voor die voet doodmaak. Jou kinders sal as gevangenes weggeneem word na ’n vreemde land. Alles wat in jou oor is, sal tot op die grond afgebrand word.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 23