Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:2-17 Die Boodskap (DB)

2. “Mens, Ek wil hê jy moet besluit wat met Jerusalem gedoen moet word. Oordeel jy dan nou oor hierdie stad waar daar van die môre tot die aand moord gepleeg word. Vertel vir almal van die slegte dade wat sy doen.

3. En sê vir die stad die Here, die God van Esegiël, sê van haar: Jy is ’n stad waar mense doodgemaak word. Jy het voor afgode neergebuig wat jy self gemaak het.

4. Jy is vuil en sleg! Jy is skuldig aan al die moorde wat in jou gepleeg is en al die slegte dade wat voor afgode gedoen is. Nou het jou dag van vernietiging aangebreek! Jou dae is getel. Ek maak jou iets waaroor die hele wêreld sal lag en spot.

5. Ja, mense wat jou ken en die ander wat jou nie ken nie sal oor jou lag. Want jy het so sleg opgetree dat die hele wêreld weet dat jou goeie naam daarmee heen is.

6. “Elkeen in jou wat belangrik is, is daarop uit om moord te pleeg.

7. Julle ignoreer julle ouers en het geen respek vir hulle oor nie. Julle mishandel die mense van ander lande wat by julle bly. Julle buit weeskinders en weduwees uit.

8. Die dinge wat aan My behoort, steur jy jou nie aan nie. En jy doen op die sewende dag, die dag van rus, net wat jy wil. Jy steur jou nie aan wat Ek jou beveel het nie.

9. Mense beledig mekaar en beskuldig mekaar vals. En hulle vals beskuldigings maak dat onskuldige mense tot die dood veroordeel word in die hof. Die mense wat in jou woon, Jerusalem, bring offers vir hulle afgode en hou aan om slegte dinge te doen, sonder ophou.

10. Daar is mans wat by hulle pa se vroue slaap, getroude mans wat by ander vroue slaap terwyl Ek gesê het dit mag nie gebeur nie.

11. In jou, Jerusalem, bly daar mans wat by hulle buurman se vrou slaap. Of hulle slaap by hulle skoondogters. Of hulle verkrag hulle eie susters.

12. Daar is mense in jou wat vir geld moord pleeg. Hulle leen geld uit teen buitensporig hoë rentekoerse. Hulle steel en loop ander mense in. Dis ’n klomp mense wat nooit eers dink aan wat Ek vir die mens gesê het om te doen nie,” sê die Here, die God van Esegiël.

13. “Ek is so verbaas oor wat julle doen dat Ek my hande saamslaan. Julle lieg en bedrieg. Julle maak links en regs dood.

14. Sê ’n bietjie vir My: Sal jy ook so vol selfvertroue wees die dag as Ek jou gaan oordeel? Ek, die Here, het gepraat. En Ek sal doen wat Ek sê.

15. “Ek gaan jou onder die nasies verstrooi. Jy sal in vreemde lande as gevangene woon. En daar sal Ek jou skoonmaak van al die slegte dinge wat jy gedoen het.

16. Daardie dag, as die vreemde nasies so na jou kyk en oor jou lag en spot, sal jy weet en erken dat Ek die Here is.”

17. Toe het die Here weer met my gepraat:

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22