Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 20:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Dit was die veertiende Augustus 591 v.C. in die sewende jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in ’n vreemde land was. Op daardie dag het party van my volk se leiers my kom vra of ek nie vir hulle ’n boodskap van die Here af het nie. Hulle het voor my gesit en gewag dat ek hulle moet antwoord.

2. Toe het die Here met my gepraat en vir my gesê:

3. “Mens, jy moet vir die leiers van Israel die volgende boodskap gee. Sê vir hulle: Julle waag dit om My te vra om julle te help! So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle niks sê en julle glad nie help nie. Dit is die woord van die Here, die God van Esegiël, vir julle.

4. “Mens, kyk jy na hierdie klomp mense. Kyk na al die afskuwelike dinge wat hulle aanhou doen het. Vertel vir hulle dat hulle oupas en oumas, en hulle oupagrootjies en oumagrootjies ook aangehou het om slegte dinge te doen.

5. Gaan sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê oor hulle: Ek het Israel gekies om my volk te wees. En Ek het Myself aan julle bekendgemaak toe julle nog gevangenes in Egipte was. Daar in Egipte het Ek belowe dat Ek julle God sal wees.

6. Toe het Ek belowe dat Ek Israel en haar mense uit Egipte sal weglei. Ek het gesê Ek sal hulle na ’n land lei wat Ek vir hulle gemaak het. Ek het gesê dit sal ’n goeie land wees, ’n land wat oorloop van goeie dinge. Die land wat Ek vir hulle belowe het, is die beste land op aarde.

7. Toe het Ek vir hulle gesê: Wat Ek van julle vra, is dat julle julle afgode moet laat staan. Moenie julleself verder verneder om Egipte se afgodsbeelde te dien nie, want Ek is die Here, jou God.

8. “Maar hierdie klomp mense het teen My in opstand gekom. Hulle wou nie luister wat Ek vir hulle sê nie. Hulle wou nie ontslae raak van hulle afgode nie. Toe het Ek hulle gewaarsku dat Ek kwaad gaan word oor wat hulle doen en hulle gaan straf. Dit het al gebeur nog voor Ek Israel uit Egipte gelei het.

9. Maar Ek het hulle nie gestraf nie. Ek het Myself aan hulle verbind, en Ek wou my groot Naam beskerm. Ek was bang die ander nasies spot met Israel as Ek hulle nie uit Egipte uitlei nie omdat Ek belowe het dat Ek dit sou doen.”

10. “Daarom het Ek my volk uit Egipte, die land waar hulle gevangenes was, uitgelei. Ek het hulle die woestyn in geneem.

11. Daar het Ek vir hulle gesê wat hulle moet doen as hulle wou bly lewe. Ja, elke mens wat doen wat Ek sê, sal aanhou lewe.

12. Ek het toe ook vir hulle die sewende dag as ’n dag gegee waarop ’n mens moet rus. Die sewende dag was die dag waarop Ek hulle daaraan herinner het dat Ek, die Here, hulle eenkant gesit het om aan My te behoort en soos Ek te wees. Hulle was my spesiale volk.

13. “Maar dit was nie lank nie, toe kom die mense van Israel in opstand teen My. Dit het gebeur toe hulle nog in die woestyn was. Hulle wou nie doen wat Ek gesê het nie, alhoewel hulle geweet het dat dit die enigste manier is om te bly lewe. Hulle het ook nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek beveel het nie. Daarom het Ek gedreig om hulle te straf omdat Ek baie kwaad was. Ek het planne begin maak om hulle van die aardbol af te vee,

14. maar ook daar het Ek my woede ingehou om my Naam te beskerm. Anders sou die ander nasies lag en sê: ‘Die Here het sy volk uit Egipte gelei, maar Hy was nie sterk genoeg om vir hulle in die woestyn te sorg nie.’

15. “Maar daar in die woestyn het Ek vir daardie klomp mense belowe dat Ek hulle nie na die land toe sal vat wat Ek belowe het om vir hulle te gee nie. Daardie land is die mooiste land wat daar op die aarde is. Dit loop oor van goeie dinge.

16. Ek het vir hulle gesê dat hulle nie die goeie land sal sien nie omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het My geïgnoreer. En hulle het nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek hulle beveel het nie. Hulle het maar weer voor afgode gaan neerbuig en hulle aanbid.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 20