Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 18:25-32 Die Boodskap (DB)

25. “Maar nou sê julle: ‘Die Here tree nie reg op nie! Hy is nie regverdig teenoor mense nie!’ Wat? Luister ’n bietjie hier, mense van Israel. Is dit Ek wat nie reg optree nie? Is dit nie eerder julle wat nie reg optree nie?

26. As mense wat reg optree en doen wat Ek sê, daarmee ophou en slegte dinge begin doen, sal hulle doodgemaak word vir hulle slegte dade.

27. En as mense wat slegte dinge doen, daarmee ophou en begin doen wat Ek sê, sal hulle bly leef.

28. Hulle sal lewe omdat hulle van die verkeerde pad omgedraai het om agter My aan te loop.

29. Tog sê die mense van Israel aanhoudend: ‘Die Here tree nie reg op nie!’ Hoor hier, dis julle wat nie reg optree nie, mense van Israel.

30. “Ek gaan elke mens oordeel volgens wat hy gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Draai daarom weg van die slegte pad af. Moenie dat julle slegte dade julle lewe kos nie.

31. Hou op om teen My in opstand te wees. Vra My om vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe binneste te gee. Hoekom wil julle op die slegte pad aanhou totdat Ek julle doodmaak?

32. Ek wil nie dat julle doodgemaak word nie, mense van Israel. Draai om en loop agter My aan, en lewe,” sê die Here, die God van Esegiël.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 18