Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 18:1-17 Die Boodskap (DB)

1. Toe het die Here vir my ’n boodskap vir my volk gegee:

2. “Hoekom sê die mense van Israel: Die ouers eet groen druiwe, en hulle kinders trek hulle gesigte op ’n plooi, so suur is die druiwe, oftewel: die ouers doen sonde, dan word die kinders daarvoor gestraf?

3. Wel, so seker as wat julle leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “julle sal nooit weer só in Israel praat nie,

4. want Ek besluit oor elke mens. En Ek straf elke mens soos hy verdien. Ek besluit oor ouers, en Ek besluit oor kinders. En dit is hoe Ek oor elkeen oordeel: die mens wat verkeerd doen, word gestraf daarvoor. Hy sal doodgemaak word.

5. “Sê nou maar daar is iemand onder julle wat reg en goed optree.

6. Hy het nie voor afgode neergebuig en hulle aanbid soos die ander mense van sy volk nie. En sê nou hy het nie by ’n ander man se vrou geslaap nie, en hy het net gedoen wat die Here vra.

7. Hierdie man doen goed aan ander mense. Hy leen nie vir die arm mense nie. Nee, hy gee sommer vir hulle verniet wat hulle nodig het. Hy gee kos vir die mense wat honger is en klere vir mense wat koud kry.

8. En as hy dalk geld vir iemand leen, vra hy nie rente nie. Hy doen nie verkeerde dade nie en is nie opstandig teen My nie. Hy doen net wat goed is.

9. Hy doen alles wat Ek vra. Wel, so ’n mens sal lewe. Ek sal hom laat lewe, want hy doen wat goed en reg is,” sê die Here, Esegiël se God.

10. “Maar sê nou hierdie selfde man het ’n seun. En hierdie seun word groot en dan besteel hy mense. Hy maak sommer iemand dood. En hy weier om goed te doen.

11. Hierdie seun doen al die slegte dinge wat sy pa nooit sou droom om te doen nie. Hy aanbid afgode en slaap by ’n ander man se vrou.

12. Hy steel van arm mense en weier om mense te help wat desperaat is. As mense hom geld skuld, vat hy sommer hulle meubels. Hy aanbid afgode en doen alles wat sleg is.

13. Hy leen geld uit teen buitensporig hoë rente. Sal Ek so ’n slegte mens laat bly lewe? Nee! Hy moet doodgemaak word, want hy is skuldig.

14. “Maar sê nou hierdie slegte seun het op sy beurt ook ’n seun. Hierdie seun sien watter slegte lewe sy pa lei en hy besluit om ’n ander koers in te slaan.

15. Hierdie seun weier om voor afgode te buig. Hy slaap nie by ’n ander man se vrou nie.

16. Hy besteel nie arm mense nie en hy behandel mense wat hom geld skuld, altyd goed. Hy gee kos vir mense wat honger is en klere vir mense wat koud kry.

17. Hy help arm mense en leen nie sy geld teen buitensporig hoë rentekoerse aan ander uit nie. Hy doen alles wat Ek vir die mens gesê het om te doen. Hierdie seun sal nie vir sy pa se slegte dade gestraf word nie. Ek sal hom laat lewe.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 18