Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 13:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het met my gepraat en vir my gesê:

2. “Mens, gaan vertel wat Ek nou vir jou sê oor daardie spul vals boodskappers wat maak asof hulle namens My praat, maar wat eintlik net leuens kwytraak. Hierdie mense dink mos ’n klomp mooi stories uit en sê dan dis Ek wat met die volk praat. Wel, gaan sê vir hulle: Dit sê die Here oor wat hulle doen.

3. Ek gaan julle vernietig en verwoes omdat julle leuens uitdink en dan sê dat dit Ek is wat so sê. Julle sê julle het My gesien, maar al die tyd het julle niks gesien nie.

4. “Israel, hierdie mense wat sê dat hulle namens My praat, is soos jakkalse wat in die puinhope van ’n verwoeste stad rondkrap, maar niks kry om te eet nie.

5. Die mure wat rondom my volk gebou is om hulle te beskerm is plek-plek deur die vyande afgebreek. En hierdie mense doen niks om daardie mure weer op te bou nie. Hulle help julle nie om regop te bly staan die dag as die vyand julle aanval en julle lewe bedreig nie. Daardie dag gaan Ek julle straf vir al julle slegte dade.

6. Nee, in plaas daarvan om julle op te bou, het hierdie mense vir julle gelieg. Hulle het gesê: ‘Wat ons vir julle sê, kom direk van die Here af!’ Maar die Here het nooit met hulle gepraat nie, en Hy het niks vir hulle gesê nie. En tog verwag hulle dat die Here sal doen wat hulle sê!

7. Julle sê julle het die Here gesien en Hy het met julle gepraat. Julle sê dat die Here self aan julle verskyn het. Hoe kan dit wees as Ek nie eens met julle gepraat het nie?

8. “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, oor julle: Omdat julle lieg en valslik sê dat julle van My gehoor en My gesien het, sal Ek self julle vyand word. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat.

9. Ek sal hierdie mense wat lieg en sê dat hulle namens My praat, met die vuis bykom. Ek sal hulle almal wegjaag sodat hulle nie meer tussen julle sal kan bly nie. Nie eens hulle name sal ooit weer in hierdie volk se sensus voorkom nie. En hulle sal nooit weer hulle vaderland sien nie omdat Ek hulle wegjaag na ’n vreemde land. Dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is.

10. “Hierdie mense het my volk op die verkeerde paaie laat loop. Hulle het gesê alles sal goed gaan, terwyl niks reg geloop het nie. Hulle sê daar sal vrede wees terwyl daar net oorlog op julle wag. Dis of hierdie klomp mense ’n bouvallige muur bou wat nie kan bly staan nie, en dan kom die leuenaars wat sê hulle praat namens My en verf hierdie muur wit sodat dit lyk of hy sterk is. En dan dink hulle boonop die verf sal die muur regop hou.

11. Wel, sê vir al die mense wat hierdie muur verf dat hulle muur binnekort sal omval. Daar gaan ’n swaar reënbui kom, met groot haelstene en ’n sterk wind. En dan sal die muur omval.

12. Daardie dag as die muur val, sal die mense uitroep en vra: ‘Waar is die verf wat julle aan die muur gesit het?’

13. “Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou: Ek maak julle geverfde muur gelyk met die grond met die storm wat Ek stuur omdat Ek baie kwaad is vir julle. Die swaar reën en die haelstene wys hoe kwaad Ek is oor julle slegte dade.

14. Ek breek julle muur tot op sy fondament af. En die dag as julle muur omval, val hy bo-op julle. Hy sal julle plat val. En dan sal julle weet en erken dat Ek die Here is!

15. “Eers dan sal my woede bedaar teen julle muur en teen almal wat die muur wit geverf het. Dan sê Ek vir julle: die muur en almal wat dit wit geverf het, is weggevee.

16. Hulle het leuens vertel en dan gesê dis Ek wat praat. Hulle het gesê daar wag vrede vir my volk en vir Jerusalem, terwyl daar nie vrede kom nie. Dit is die Here, die God van Esegiël, wat hier praat.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 13