Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:24-28 Die Boodskap (DB)

24. Wanneer die wesens gevlieg het, het hul vlerke geklap soos die see se golwe wanneer dit teen die rotse breek. Die geraas van die vlerke het my laat dink aan ’n rivier wat in volle vloed afkom. Dit was die Here se stem wat ek gehoor het wanneer die vlerke geklap het. Dit het geklink soos ’n groot klomp mense, ’n hele skare wat gelyktydig praat. Of soos ’n groot groep soldate wat gelyktydig skree en roep. Die Here wat oor alles en almal mag het, het so gepraat. En elke keer wanneer die wesens stil gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak.

25. Toe die wesens stil gaan staan, het ’n stem vanuit die skitterende ysberg bokant hulle koppe gekom.

26. Bokant die wesens se koppe was daar iets wat gelyk het soos ’n reusesitplek waarop ’n koning sit. Dit het gelyk of hierdie sitplek van hemelsblou edelstene gemaak is. En hoog bo-op die troon het Iemand gesit wat vir my na ’n Mens gelyk het. Hy het ver bokant die troon uitgestaan, so groot was Hy.

27. Die Man se bolyf het gegloei. Dit het gelyk of dit van lopende, witwarm metaal gemaak is, so helder het dit geblink. Dit het gelyk of daar vuur uit sy bolyf kon kom, so het dit geskitter. En sy onderlyf het net so geskitter, asof dit van ’n baie warm vuur gemaak is.

28. Rondom die Man was die lig so helder dat dit gelyk het of die mooiste veelkleurige reënboog om Hom gedraai was. Ek het toe besef dat dit die Here self was wat in al sy mag aan my verskyn het. En toe ek die Man sien, het ek met my gesig in die stof neergeval. Ek kon nie langer bly staan nie, so het dié gesig my oorweldig. Toe hoor ek iemand wat met ’n helder, duidelike stem met my praat.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1