Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 1:2-9 Die Boodskap (DB)

2. Dit was die vyfde jaar nadat ons saam met ons koning Jojagin as gevangenes na die vreemde land weggeneem is. Ons het by die Kebarrivier gebly, naby die Persiese Golf in die land van die Babiloniërs.

3. Die Here het Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak: Hy het direk uit die hemel met my gepraat. Ek het Hom gesien. Sy hand was swaar op my. Hy het vir my ’n boodskap gegee om vir my eie mense te bring.

4. Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was.

5. Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk.

6. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad.

7. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad.

8. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg.

9. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 1