Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 40:22-38 Die Boodskap (DB)

22. Hy het toe die tafel waarop die brood kom, binne-in die tent teen sy noordelike muur voor die gordyn gaan neersit.

23. Hy het die offerbrood daarop neergesit.

24. Hy het die ligstaander ook daar gaan neersit, regoor die tafel teen die suidelike muur.

25. Hy het die lampies aan die staander vasgesit soos die Here gesê het.

26. Hy het die altaartjie vir die wierook ook in die tent laat sit, reg voor die gordyn wat in die middel hang.

27. Hy het die wierook daarop gesit en dit aan die brand gesteek, soos die Here vir hom gesê het hy moet maak.

28. By die ingang van die tent het hy toe die gordyn opgehang wat die tent toemaak.

29. Hy het die altaar vir die brandoffer reg teenoor die ingang van die tent laat sit sodat hy daarop die brandoffer en die graanoffers kon bring op die manier wat die Here vir hom voorgeskryf het.

30. Hy het die koperbak tussen die altaar en die tent laat sit. Dit is met water volgemaak sodat die werkers van die tent hulle daar kon gaan was.

31. Moses en Aäron en sy seuns het water uit hierdie bak gevat om hulle hande en voete te was.

32. Wanneer hulle op pad was na die tent toe om offers op die altaar te bring, moes hulle eers hulleself daar gaan was. Dit was soos die Here vir Moses gesê het.

33. Laaste het Moses die binnehof rondom die tent en die altaar opgeslaan. Hy het ook die gordyn by die ingang na die binnehof laat hang. So het Moses gedoen wat hy moes.

34. ’n Wolk het afgesak en oor die tent gaan hang. ’n Mens kon voel dat God daar by die tent was.

35. Die wolk en die Here wat daar was, was so geweldig dat Moses nie eens in die tent kon ingaan nie.

36. As die wolk van die tent af oplig, was dit vir die Israeliete die teken om op te pak en verder te gaan.

37. As die wolk oor die tent bly hang het, het hulle op daardie plek gebly totdat die wolk weer opgelig het.

38. Terwyl Israel op pad was na die land wat die Here vir hulle sou gee, het hulle die hele tyd gevoel dat die Here in die tent was. Hulle het dit gesien aan die wolk wat bo die tent gehang het. In die nag was daar ’n bol vuur wat hulle verseker het dat die Here by hulle is.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 40