Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:19-27 Die Boodskap (DB)

19. Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.”

20. Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou.

21. Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek.

22. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is.

23. Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’”

24. Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak.

25. Sy vrou Sippora vat toe ’n mes wat van klip gemaak was en besny haar seun. Sy gooi toe die velletjie wat sy van haar seun afgesny het voor Moses se voete neer met die woorde: “Jy is my bruidegom. Jy word met bloed beskerm.”

26. Toe sy sê “bruidegom wat met bloed beskerm word” het sy na die besnydenis verwys. Die Here het Moses toe laat staan.

27. Die Here het vir Aäron gesê hy moet vir Moses in die woestyn gaan ontmoet. Hy het toe by die berg van God op hom afgekom. Hy het hom gegroet en hom teen die wang gesoen.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4