Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 39:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Hulle het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Die goue drade is dan op kunstige manier saam met die blou, pers en bloedrooi wol in die materiaal ingeweef.

4. Hulle het twee bande gemaak om dit oor die skouers vas te knoop.

5. Hulle het die gordel waarmee die skouerkleed om die heupe vasgemaak word, op dieselfde manier borduur met gouddraad, en blou en pers en bloedrooi wol, net soos die Here vir Moses gesê het.

6. Nadat hulle onikssteen poleer het, het hulle dit in goud vasgesit en die name van die families van die Israeliete kunstig daarop gegraveer.

7. Dit is op die skouerbande van die kledingstuk vasgesit sodat die name op die stene Israel kon verteenwoordig. Dit is alles gedoen presies net soos die Here vir Moses gesê het.

8. Die sak wat voor die bors kom, was ’n kunswerk. Hulle het dit net soos die deel wat oor die skouers kom, van geweefde linne gemaak wat met gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is.

9. Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm. Dit was vierkantig en 25 sentimeter lank en breed.

10. Hulle het twaalf soorte halfedelstene daarop vasgesit, gerangskik in vier rye van drie elk. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag;

11. in die tweede ry turkoois, saffier en jaspis;

12. in die derde hiasint, agaat en ametis,

13. en in die vierde ry chrisoliet, oniks en opaal. Dit is in ’n montering van goud vasgesit.

14. Die twaalf name van die families van Israel is elkeen op een van die twaalf stene gegraveer soos op ’n seëlring.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 39