Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:4-13 Die Boodskap (DB)

4. Hy het dit by hulle gekry en daarvan ’n beeld van ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte laat wegtrek het.”

5. Toe Aäron sien wat hulle doen, het hy ook nog ’n altaar vir offers daar by die beeld gebou. Hy het gesê: “Môre gaan ons fees hou vir die Here!”

6. Vroeg die volgende oggend het hulle toe offers op die altaar begin verbrand en offers begin slag wat vrede moet bring. Later het hulle begin eet en drink. Dit het naderhand in ’n uitspattigheid ontaard.

7. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dadelik teruggaan! Jou volk wat jy uit Egipte weggelei het, is besig om lelike dinge te doen.

8. Hulle was baie vinnig om te vergeet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. Hulle het sowaar vir hulle ’n beeld van ’n kalf gaan maak. Hulle aanbid die kalf en bring offers daarvoor. Hulle sê die kalf is Israel se god wat Israel uit Egipte laat wegkom het.

9. Ek het sommer aan hulle gesien dat hulle ’n volk is wat hulle eie kop gaan volg.

10. Los My nou uit dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitroei. Moenie jou bekommer nie, want Ek sal jou ’n groot volk laat word.”

11. Moses het toe by die Here sy God begin mooipraat: “Here, hoekom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag uit Egipte laat wegtrek het?

12. Waarom sal U nou die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle met ’n slim plan uitgevang. Hy het hulle laat trek sodat Hy hulle daar by die berg kan gaan doodmaak. Hy het hulle van die aarde afgevee. Laat asseblief tog u woede bedaar. Moet asseblief tog nie hierdie vreeslike ding met u volk laat gebeur nie.

13. Dink ’n bietjie aan u kinders Abraham, Isak en Israel. U het mos plegtig vir hulle belowe dat U hulle nakomelinge so baie sal laat word soos die sterre in die lug. U het beloof dat U die land as ’n ewige erfdeel aan hulle nageslag sal gee.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32