Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 3:11-22 Die Boodskap (DB)

11. Moses het toe vir die Here gesê: “Wie is ék dan nou dat dit juis ek is wat na die farao toe moet gaan? En wie is ék dat ek die Israeliete uit Egipte moet uitlei?”

12. Die Here antwoord hom: “Ek self sal saam met jou gaan. Wanneer jy die volk uit Egipte uitgelei het en hulle kom aanbid My by hierdie berg, sal dit die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.”

13. Moses het vir God gesê: “Wanneer ek by die Israeliete aankom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle dadelik vir my vra: ‘En wie is Hy nou?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”

14. “Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.”

15. God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.”

16. “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers, die God van Abraham en Isak en Jakob, by die doringbos ontmoet. Hy het gesê: ‘Ek het goed na julle probleem gekyk. Ek het gesien wat daar alles met julle in Egipte gedoen word.

17. Ek het besluit dat Ek julle sal laat wegtrek van die swaarkry in Egipte. Ek sal julle laat trek na ’n land waarin daar volop kos is. Dit is die land waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik woon.’

18. Die leiers van Israel sal aanvaar wat jy vir hulle sê.“Jy moet dan saam met hulle na die koning van Egipte toe gaan. Julle moet vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het na ons toe gekom. Gee tog vir ons kans om vir drie dae lank weg te gaan. Ons wil graag in die woestyn vir die Here ons God offers gaan bring.’

19. Ek weet goed dat die Egiptiese koning julle nie toestemming sal gee om te gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word.

20. Daarom sal Ek ingryp en allerhande verskriklike dinge in die land laat gebeur. Eers nadat dit klaar gebeur het, sal hy instem om julle te laat gaan.

21. Ek sal ook die houding van die Egiptenaars teenoor julle verander. Wanneer julle eendag uit die land wegtrek, moet julle nie sonder geskenke weggaan nie.

22. Elke vrou moet haar buurvrou en die mense om haar wat van ander plekke kom, dwing om vir haar silwer en goue juweliersware en klere te gee. Julle moet dit vir julle kinders aantrek. So moet julle hulle terugkry vir wat hulle aan julle gedoen het. Julle moet Egipte kaal uittrek.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 3