Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 3:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Moses het sy skoonpa, Jetro, se vee opgepas. Jetro was die man in Midian wat vir die Here gewerk het. Moses het toe met sy skoonpa se vee al dieper die woestyn in getrek. Hy het naderhand by God se berg uitgekom. Dit is die berg Horeb.

2. Daar het hy ’n man gesien wat van God uit die hemel kom. Die man het binne-in ’n vuurvlam gestaan wat lyk of dit in ’n doringbos brand. Alhoewel dit gelyk het of die bos besig was om af te brand, het dit glad nie uitgebrand nie.

3. Moses het vir homself gesê: “Ek wil ’n bietjie gaan kyk wat hier aangaan. Hoekom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4. Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!”Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.”

5. Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort.

6. Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk.

7. Die Here het vir hom gesê: “Ek het mooi gesien hoe swaar my volk daar in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle skree omdat hulle soos slawe gedryf word. Ek het baie duidelik gesien hoe swaar hulle kry.

8. Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly.

9. Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel.

10. Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.”

11. Moses het toe vir die Here gesê: “Wie is ék dan nou dat dit juis ek is wat na die farao toe moet gaan? En wie is ék dat ek die Israeliete uit Egipte moet uitlei?”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 3