Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29:31-46 Die Boodskap (DB)

31. “Maak die vleis van die ram wat vir die bevestiging gebruik is, gaar in ’n plek wat daarvoor eenkant ingerig is.

32. Aäron en sy seuns moet die gaar vleis en die brood wat in die mandjie oor is, by die ingang van die tent eet.

33. Net hulle mag van die offer eet wat gebruik is vir hulle sonde toe hulle in hulle dienswerk aangestel en aan God opgedra is. Iemand wat nie ook by die tent werk nie, mag glad nie daarvan eet nie. Hy is nie vir die werk van God afgesonder nie.

34. “Enigiets wat nog die volgende oggend oor is van die vleis of brood wat vir die bevestiging gebruik is, moet in die vuur verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God gegee.”

35. “Daar is nog verder die volgende aanwysings wanneer jy Aäron en sy seuns bevestig. Dit hou sewe dae lank aan.

36. Offer elke dag ’n bul om vir hulle sonde te betaal. Daarmee word die sonde weggeneem en kom die sake weer reg met God. Gooi olie oor die altaar uit om dit aan die Here te wy.

37. Vir sewe dae moet jy elke dag offers by die altaar bring om vrede te bring tussen julle en God. Dra die altaar aan die Here op. Die altaar sal dan aan God alleen gewy wees. Enigeen wat dan daaraan raak, sal ook aan God gewy moet word.

38. “Jy moet so maak by die altaar: jy moet elke dag twee lammers offer wat elkeen ’n jaar oud is.

39. Die een word vroeg in die oggend en die ander laat teen die aand geoffer.

40. Saam met die lam in die oggend offer jy een kilogram meel wat met een liter suiwer olie en wyn gemeng is.

41. Die tweede lam word teen die aand geoffer saam met ’n offer van meel, olie en wyn wat dieselfde is as dié in die oggend. Dit is ’n offer wat verbrand word. Die Here hou baie daarvan.”

42. “Oor die jare moet daar altyd vir My ’n offer by die ingang van die tent verbrand word. Ek sal julle daar by die tent ontmoet en daar met julle gesels.

43. Daar sal Ek en Israel mekaar leer ken en sal dit vir hulle duidelik word hoe groot en belangrik Ek is.

44. Ek sal die tent van ontmoeting en die altaar die plekke maak wat vir My eenkant gesit is. Ek sal Aäron en sy seuns uitsonder van die res en hulle vir My as my priesters laat werk.

45. My tent sal tussen die Israeliete staan. Ek sal hulle God wees wat tussen hulle woon.

46. Hulle sal erken dat dit Ek was, die Here hulle God, wat hulle uit Egipte laat wegtrek het om saam met hulle te woon. Ek is die Here hulle God.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 29