Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29:24-35 Die Boodskap (DB)

24. Laat Aäron en sy seuns hulle hande na jou toe uithou en sit die brood en die vet in hulle hande. Hulle moet dit dan na die Here toe uithou en aan Hom opdra.

25. Vat dit weer uit hulle hande uit en verbrand alles op die altaar saam met die offer van die eerste ram. Dit is ’n offer wat met vuur vir die Here verbrand word. Hy hou baie daarvan.”

26. “Die bors van die ram wat jy gebruik het om Aäron-hulle aan te stel mag jy vir jouself vat. Jy moet dit eers na die Here toe uithou en dit aan Hom opdra. Daarna kan jy dit vat.

27. Die bors en die boud van die offer wat gebruik word om Aäron-hulle te bevestig moet eenkant gesit word. Dit word na die Here uitgehou en aan Hom opgedra. Daarna kry Aäron en sy seuns dit om te eet.

28. Dit is ’n vaste reël vir die Israeliete dat die bors en die boud van hulle offer wat hulle vir die Here bring om van te eet, eers aan Hom opgedra sal word en dan vir Aäron en sy seuns gegee sal word om te eet.”

29. “Aäron se opvolger moet sy klere kry wanneer hy na sy dood in sy plek aangestel word en in sy dienswerk bevestig word.

30. Die seun wat hom as priester opvolg, moet dit sewe dae lank aanhou wanneer hy met sy werk begin en na die tent kom om voor die Here te kom.”

31. “Maak die vleis van die ram wat vir die bevestiging gebruik is, gaar in ’n plek wat daarvoor eenkant ingerig is.

32. Aäron en sy seuns moet die gaar vleis en die brood wat in die mandjie oor is, by die ingang van die tent eet.

33. Net hulle mag van die offer eet wat gebruik is vir hulle sonde toe hulle in hulle dienswerk aangestel en aan God opgedra is. Iemand wat nie ook by die tent werk nie, mag glad nie daarvan eet nie. Hy is nie vir die werk van God afgesonder nie.

34. “Enigiets wat nog die volgende oggend oor is van die vleis of brood wat vir die bevestiging gebruik is, moet in die vuur verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God gegee.”

35. “Daar is nog verder die volgende aanwysings wanneer jy Aäron en sy seuns bevestig. Dit hou sewe dae lank aan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 29