Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Wanneer iemand ’n ander koelbloedig doodmaak, moet hy weggevat word om opgehang te word, selfs al het hy na die altaar gevlug en daar gevra om vergewe te word.

15. Iemand wat sy ouers beseer, moet doodgemaak word.

16. As een mens ’n ander mens steel, of dit nou is om daardie persoon vir geld te verkoop of hom as slaaf aan te hou, is hy met die dood strafbaar.

17. Selfs minagting vir jou ouers is met die dood strafbaar.

18-19. “As twee mans aan die baklei raak, kan dit gebeur dat die een die ander een met ’n klip of met sy vuis slaan sodat hy in die bed beland. Dit kan gebeur dat hy nie daarvan doodgaan nie, maar met ’n kruk moet loop as hy weer regkom. As dit gebeur, moet die persoon wat hom geslaan het hom vergoed vir die tyd wat hy siek was en vir hom sorg tot hy weer gesond is.

20. As iemand sy manlike of vroulike werker so met ’n stok slaan dat die slaaf doodgaan, moet daardie persoon gestraf word.

21. As die slaaf dit oorleef en nie binne ’n dag of twee doodgaan nie, is dit in orde. Die man besit tog immers die slaaf.”

22. “Twee mans kan miskien met mekaar baklei. Terwyl hulle veg, kan een van hulle teen ’n vrou stamp wat swanger is sodat sy daardeur haar baba verloor. Die man wat haar die baba laat verloor het, moet dan skadevergoeding betaal. Haar man sal ’n eis instel. Daar moet dan onderhandel word oor die bedrag wat betaal moet word.

23. As hy skade veroorsaak het wat vir altyd sal bly, moet hy daarvoor baie geld betaal. As sy doodgaan, sal hy met sy eie lewe moet betaal.

24. ’n Oog se skade moet met ’n oog goed gemaak word. As daar ’n tand uit is, moet hy een van sy tande laat uithaal. ’n Hand se skade moet met ’n hand betaal word, ’n voet met ’n voet,

25. ’n brandplek met ’n brandplek, ’n wond met ’n wond en ’n kneusplek met ’n kneusplek.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21