Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 20:15-26 Die Boodskap (DB)

15. “Jy moenie iets steel nie.

16. “Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie.

17. “Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.”

18. Die volk het baie bang geword toe hulle die donderweer hoor en die blitse sien. Hulle het gebewe toe hulle sien hoe vol rook die berg is en hoor hoe hard die trompet blaas. Hulle het gebewe, so bang was hulle. Hulle het gesorg dat hulle op ’n afstand bly staan.

19. Hulle het Moses gesoebat: “Praat jy liewer met ons dat ons na jou kan luister. God moenie met ons praat nie. As Hy praat, sal ons doodgaan.”

20. “Julle moenie bang wees nie,” sê Moses toe vir hulle, “God het kom kyk of julle versigtig genoeg vir Hom is sodat julle nie teen Hom sal sonde doen nie.”

21. Terwyl die volk op ’n afstand bly staan, het Moses na die donker wolk toe gegaan waarin God was.

22. God het vir Moses gesê om met die Israeliete te praat: “Julle het nou self gesien wat gebeur as Ek van bo uit die hemel met julle praat.

23. Hou op om vir julleself afgodsbeelde van silwer of goud te maak wat julle saam met My wil aanbid.

24. “Bou vir My ’n offerplek van grond op elke plek wat Ek vir julle wys waar Ek wil hê julle tot My moet bid. Bring vir My op daardie altaar die diere wat julle as brandoffers en dankoffers uit julle kleinvee en julle beeste offer. Ek sal na daardie plek kom en Ek sal julle lewe goed maak.

25. As jy die offerplek van klip wil bou, moet dit nie van klip wees wat julle gekap het nie. Klip wat met gereedskap bewerk is, is nie aanvaarbaar vir my altare nie.

26. My altare mag ook nie trappies hê waarmee ’n mens boontoe opklim nie. ’n Mens moenie van onder af onder die een wat opklim om die offer te bring se klere kan inkyk nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 20